'N DROOM | |
  |
Daar was 'n man wat baie hard gewerk het in belang van 'n groot saak. Hy was baie moeg en mismoedig omdat mense skynbaar nie baie belang gestel het in die dinge waarvoor hy so hard gewerk het nie. Terwyl hy daaroor nadink, raak hy aan die slaap en droom hy dat hy 'n perd is wat 'n swaar wa teen 'n lang opdraand moet trek. Toe hy die steil pad bereik, het die vrag die helfte ligter gevoel as wat hy verwag het. Toe hy omkyk, sien hy 'n klompie seuns, dogters, mans en vrouens wat almal die vrag help stoot. Dít was die rede waarom die wa so maklik geloop en die wiele so vrolik gedraai het. Dit het goed gegaan totdat hulle amper halfpad bo was, maar toe was dit asof die vrag swaarder en die pad steiler geword het. Weer het hy omgekyk, net om te gewaar dat etlike van sy helpers moeg geword en op die wa geklim het om saam te ry. Slegs 'n paar mense het nog help stoot. Steeds het hulle aangesukkel tot naby die top, maar nou was die vrag swaarder as ooit en die pad baie steiler. Hy het al sy kragte ingespan en getrek vir al wat hy werd was, maar toe hy weer omkyk, sien hy ál sy helpers op die wa en moes hy alléén die wa tot bo trek. Hy het met al sy krag voortgebeur, maar gevoel dat hy nie die paal gaan haal nie. Net toe sy moed hom wou begewe, skrik hy wakker. Dit was maar net 'n droom... Wie was hierdie man? Ek weet nie. Miskien was hy 'n predikant wat gedink het hoe maklik dit sou wees om sy gemeente te bedien as daar baie gewillige helpers was, maar hoe moeilik as almal net passasiers wil wees. Miskien was hy 'n staatsman wat hom beywer het vir wêreldvrede en gevoel het hoe maklik dit bereik kon word as almal sou help, maar hoe moeilik as almal resultate wou sien sonder om self betrokke te raak. Miskien was dit Jesus Christus wat ywer vir Sy koninkryk en dink hoe kragtig dit sou uitbrei as al Sy volgelinge skouer aan die wiel sou sit, maar hoe langsaam en pynlik as hulle dit aan Hom alleen oorlaat! Die vraag is nie wie HY was nie, maar wat ONS gaan wees: passasiers? of dié wat help stoot? Ek weet wat ek liewer wil wees. En ek weet ook dat aan die einde van die reis dit nie die passasiers sal wees wat die Stem sal hoor wat sê: "Mooi so, goeie en getroue dienskneg" nie. Geen passasier sal ooit daardie woorde hoor nie! OG Whitefield, Die Kruisgesant |