'N STUKKIE HEMEL OP AARDE
 

Dit was halfsewe op Donderdagoggend toe die ongeluk gebeur. Die pad naby Witrivier in Oos-Transvaal was sopnat na die reën van die laaste paar dae. Die kombi, volgelaai met swartmense, het eintlik nie 'n kans gehad nie. Toe die bestuurder om die draai kom en die swaar vragmotor voor hom in die pad sien staan, het hy so hard as wat hy kon, rem getrap. Dit het niks gehelp nie. Die kombi het begin gly en in die vragmotor vasgejaag.
'n Vrolike groepie jongmense uit Pretoria het oomblikke later op die slagting afgekom. Hulle was Christene, deel van 'n kerkgroep wat die Paasvakansie in Kan-gwane deurgebring het. Bedags het hulle hard gewerk om 'n paar putte vir 'n brandarm tuisland-dorpie te grawe. Saans het hulle Bybelstudie in 'n tent gehou, vir wie ook al lus was om te luister. Die leier van die studente het die situasie vinnig opgesom. In die pad het 'n twaalftal beseerdes gelê. Die meeste was bewusteloos. Ander het gekreun van pyn.
"Elkeen van julle kan iets doen," het hy aan sy maats gesê. Twee kêrels moes met hulle eie bussie na Witrivier ry om die Polisie en die hospitaal in kennis te stel. Die ander moes die beseerdes by-staan. Hulle moes warm gehou, gemaklik gemaak, en getroos word.
Een meisie, 'n verpleegster, het haar onderrok in repe geskeur om verbande te maak om die ergste bloeding te stop. By elkeen van die beseerdes het een van die studente gaan sit, al was dit net om 'n hand vas te hou en te bid.
Toe die Polisie 'n uur of wat later op die toneel verskyn, die ambu-lanse kort op hulle hakke, kon die studente hulle pos verlaat. Een beseerde was reeds dood, maar die ander was gou op pad hospitaal toe.
Maar dit was nie die einde van die storie nie. Twee dae later, die Saterdagaand, was die studente besig met hulle Bybelstudie-byeenkoms. 'n Hele klomp dorpsbewoners, groot en klein, was in die tent toe 'n onbekende swart vrou binnestap en vir 'n spreekbeurt vra: "Ek is nie 'n Christen nie. Ek kom selde in 'n kerk. Ek het al baie van Jesus gehoor, maar Hom nog nooit gesien nie. Maar nou die dag het 'n wonderlike ding gebeur. Naby Witrivier was daar 'n ongeluk. Die mense wat seergekry het, het langs die pad gelê. Ek het gesien hoe 'n klomp wit kinders by ons mense sit. Hulle het die be-seerdes vasgehou en vir hulle gebid. Ek kon my oë nie glo nie! Daar langs die pad het ek Jesus gesien. Ek wil meer van Hom weet. Kan julle my meer van Hom vertel?"
In die hospitaal, het die jong-mense later gehoor, het 'n soortgelyke toneel afgespeel. Een van die pasiënte het sy eie verhaal te vertel gehad: "Toe ek my oë oopmaak, sien ek 'n jong witman en meisie by my sit. Hulle het my hande vasgehou. Die man het sy baadjie oor my gegooi. Ek het gedink ek is klaar in die hemel!”
Toe twee van die jong Pretorianers my kort na die vakansie van die ongeluk vertel, het ek daar en dan besluit om dit in dié rubriek oor te vertel. Hierdie moderne Barmhartige Samaritaan-sage het my ontroer. Ons land, het ek by myself gedink, behoort nie net aan skreeuers en klipgooiers, haataanblasers en brekers nie. In ons land is daar ook mense - baie van hulle jongmense, wat as dit nodig is, langs die pad sal stilhou. Mense wat mekaar se hande vashou, wat vir mekaar bid.
Baie van die moderne Barmhartige Samaritane bly onbekend. Hulle sou dit só wou hê. Die noodlydendes, by wie hulle gaan stilstaan, lê wyd gesaai: in hospitale, kombuise, skole en inrigtings, op fabrieksvloere, in lang toue by werkverskaffings-buro's, by die voordeur met die hoed in die hand, in plakkers-huisies. Die vrug van hul werk bly orals dieselfde. Mense kan hul oë nie glo nie! Mense sien iets van Jesus in hierdie Samaritane raak.
"Ek gee julle 'n nuwe gebod," het Jesus aan Sy dissipels - ook in ons dag - gesê. "Julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefgehad het, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is." In ons land, in ons wêreld, heers daar soveel nood en ellende, soveel honger, soveel siekte, frustrasie en angs, dat jy by voorbaat lus het om handdoek in te gooi.
Geeneen van ons het al die antwoorde op die probleme van mense met wie ons elke dag te doen kry nie. Maar as 'n mens oop oë deur die lewe gaan, sal jy agterkom dat die Here ook nie elke dag al die probleme in jou bord skep nie. Een op 'n slag is vir Hom genoeg!
As jy nie te haastig is om stil te staan en te kyk nie, sal jy gou agterkom hoe die Here die mense én die situasies één-één op jou pad bring. En, om die woorde van die pasiënte in die hospitaal op Witrivier te gebruik, waar mense afbuk om te help en te verpleeg, om te probeer verstaan, word dit 'n stukkie hemel op aarde!
Dr. Piet Meiring
Beeld, 2 Julie 1985.
Sal dit nie wonderlik wees as ons elkeen gedurende 2006 “Jesus” vir mense in nood kan wees nie!
- Red.

Indeks     Index