1 KOR. 13 VIR PA'S
 
Al sou ek die mooiste huis in die buurt hê en met die duurste BMW ry, maar my vrou en kinders geniet nie die weelde van my teenwoordigheid nie, dan is ek so waardeloos soos 'n bankrekening met 'n nulbalans.
Al het ek die gawe van woorde sodat ek 'n direksie met my argumente kan swaai, of skares na my preke kan laat stroom, en ek het nie die liefde om na my kinders te luister nie, doen ek meer kwaad as goed.
Al ken ek die geheimenisse van die Beurs en die Reserwebank; en besit ek al die kennis van rugby- en krieketreëls; en al het ek al die geloof dat ons hierdie land met gebed kan verander, maar ek het nie die liefde om my kinders die gevare van baie geld te leer, langs die baan te staan as hulle speel, of hulle te leer bid nie, dan het ek niks bereik nie. Al gee ek 'n dubbele tiende vir die armes, en al beroem ek my dat ek op elke liefdadigheidsraad in my dorp dien en vakansies my gesondheid opoffer om in malariagebiede sendingwerk te doen, en ek is te moeg om saans vir my kinders boeke te lees of naweke in die veld met hulle te gaan stap, baat dit my alles absoluut niks.
'n Pa wat liefhet, is geduldig met kinders wat sukkel met wiskunde; 'n Pa se liefde is vriendelik met 'n kind wat nie wil rugby speel nie; hy is nie afgunstig op pa's met slimmer of mooier kinders nie; hy is nie grootpraterig en verwaand oor sy kinders se prestasies nie.
'n Pa se liefde handel nie onwelvoeglik met die ma van sy kinders nie; soek nie sy eie belang sodat sy huismense laaste kom nie; is nie liggeraak en nukkerig as 'n kind 'n bietjie ekstra aandag soek nie.
'n Pa wat sy kinders liefhet, hou nie boek van hul foute en peper hulle nie met verwyte nie. 'n Pa verbly hom nie oor 'n kind se foute nie, met: "Ek het jou gewaarsku, maar jy wou nie luister nie."
Hy is verheug as hy sy kinders die waarheid hoor praat - selfs tot hul eie nadeel. Daarom wil ek my kinders se skandes met liefde bedek; in hulle glo, die beste vir hulle hoop, en hul kleredrag, klaery en kritiek verdra.
'n Opregte drukkie en 'n intieme gesprek van 'n ouer bly lank in 'n kinderhart. Maar die verslag of die toespraak wat ek liewer in dié tyd wou skryf - sal oormôre weer vergeet wees. Vandag se noterings op die aandelemark is volgende week niks werd nie. In die lig van die Volmaakte wat kom, word al my kennis en besittings gerelativeer.
Toe ek 'n jongman was, was ek gesteld op my voorkoms, my motor en my geleerdheid; maar noudat ek pa geword het, wil ek net graag my kinders met liefde, balans en geloof grootmaak. Nou kyk ek nog vas teen rebelse tienergesigte, maar eendag as hulle groot is, sal hulle verstaan wat ons hulle wou leer, en wat God ons almal leer. En nou: Geduld, Aanmoediging en Liefde bly, maar die waardevolste hiervan is onvoorwaardelike LIEFDE!
[Stories vir die Lewe Omnibus, Lux Verbi.BM, 2002]

Indeks     Index