MAAK MY NEDERIG... | |
  |
Kagawa was 'n Japannese Christen. Hy het bekend geword vir sy ywer om die boodskap van Jesus in die krotbuurte van Japan te verkondig. Hy was egter 'n baie siek man - sy een long is verwyder en hy was feitlik blind. Hy het geweet dat hy nie meer lank gehad het om te leef nie. Sy antwoord op hierdie diagnose was: as ek nie lank het om te leef nie, wil ek ten minste voluit lewe! Elke dag het hy uitgegaan in die reën en sneeu om oor Jesus te praat. Die mense het hom uitgelag: 'As God jou liefhet, hoekom doen Hy nie iets vir jou nie? Jy is so maer, die wind kan jou wegwaai.' Maar Kagawa het aangehou. Partykeer moes hy letterlik die bloed van sy mond afvee, terwyl hy vertel het van Jesus. Stadig maar seker het die gespot stil geword. Mense het begin verstaan: Kagawa self is die bewys van wat hy vertel. Voor hulle het 'n klein mannetjie gestaan, koud en siek. Tog vertel hy met oortuiging dat God hom liefhet. 'n Verhaal soos hierdie laat 'n mens besef hoe baie ons mis. Partykeer, wanneer ons van die entoesiasme van ander hoor of luister na verhale soos Kagawa s'n, besef ons dat ons eie geloofslewe sonder passie is - vaal en sonder oortuiging. Dit maak 'n begeerte wakker om meer te hê. Nie méér van dít waarna almal soek en jaag en hulle voor afsloof nie, maar méér van God, méér van die Beeld van Jesus in my, en méér van die krag van die Heilige Gees. Dit wat ons egter begeer, is ook dit waarvoor ons bang is. Ons weet dat 'n passievolle lewe, oorgegee aan God, kan lei tot ontberings en selfs swaarkry. Daarom is ons soos iemand vir wie dit moeilik is om oop oë in 'n rivier te spring: 'n rivier waarvan ons die krag van die water en die rigting van die stroom nog nie beproef het nie. Ons bly dus liewer veilig, hoog en droog op die kant staan. Passieloos, sonder entoesiasme, selfgesentreerd! Daarom is daar so 'n groot verskil tussen ons lewensbenadering en Jesus se gesindheid soos Paulus dit in Filippense 2 beskryf. Ons veg met alles wat ons het om te behou wat ons het. Jesus lê Sy lewe en aanspraak op aansien vrywilliglik af. Ons werk soos slawe om soos konings te lewe; Hy lê Sy Koningskap af om die gestalte van 'n slaaf aan te neem. Hy verneder Homself om aan mense gelyk te word; ons woel en werk om bó mense uit te styg. Hy is tot die dood toe gehoorsaam aan God; ons wil om die dood net na onsself en ons eie begeertes luister. Filippense 2 konfronteer ons met die feit dat God se dade in Jesus so anders as ons eie dade is. 'Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word' (2:7). God het nie net 'n bietjie nader aan ons gekom nie. In Jesus gee Hy Homself sonder voorbehoud, sonder om te vra na die koste. Paulus sê dis nie al nie: 'Hy het Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis' (2:8). Hoekom het Jesus hierdie pad geloop? Hoekom het die Koning Homself as 'n slaaf bekendgestel? Wanneer Jesus as nederige slaaf aan die kruis hang, sien ons dat Hy ernstig is oor ons, ons sonde, en ons pyn. In Jesus kom praat God met bang, verwilderde mense in mensetaal en in menslike dade. Soos die "Horse Whisperer" kom breek God ons nie met brutaliteit nie, Hy dwing ons nie tot oorgawe nie. Jesus kom fluister vir ons Sy omgee, Sy liefde. In hierdie fluistering lê daar krag - die krag wat wilde perde tem, wat stukkende mense heelmaak, wat verlore mense red. Omdat Hy ons taal praat en omdat Hy so ernstig is oor ons nood, kan ons Hom volledig vertrou; kan ons ons vaal, passielose lewe agterlaat en die pad agter Jesus aanloop. Hy gee meer - méér van Homself, méér van Jesus in ons, méér van die krag van die Gees. As ons na Jesus kyk, sien ons hierdie krag lê nie in selfhand-hawing nie. Dit lê in ons swakheid en nederigheid. Dit lê in ons vereenselwiging met seer en stukkende mense. In ons swakheid en nederigheid word die volheid en die grootheid van God sigbaar, word die krag van die Heilige Gees sigbaar. [KSM (kerksondermure) Nov. 2006]. |