CORAM DEO | |
  |
Die Latynse begrip coram Deo is in die vroegste eeue van die Hervorming deur Martin Luther met 'n bepaalde inhoud gevul. Dit beteken basies, "Voor die aangesig van God". 'n Ander teoloog se verduideliking is: "Coram Deo" literally means "before the Face of God". It carries the notion of our living in the Presence of God, under the authority of God and to the honour and glory of God. It is what each person was designed for by their Creator. Living "coram Deo" has been best expressed perhaps by the Reformation tradition of the Church. Om "coram Deo" te leef, kan verder ook beteken om jou lewe as gelowige só in te rig dat jy deursigtig voor God sal leef met die wete: "En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met Wie ons te doen het" (Heb. 4:13). Hy ken alles, weet alles en ons kan niks vir Hom wegsteek nie. Hy wil ons egter nie daaroor veroordeel nie, maar ons help om ons deursigtige lewe welbehaaglik voor Hom in te rig. Daarom moet ons poog om Hom in alles met ons hele lewe te dien. Dan word ons dienskneg van die Here in die ware sin van die woord. Om dienskneg van die Here te wees, verg ware toewyding en algehele oorgawe om Hom te dien soos Hy gedien wil wees. Ons moderne begrip van "dienskneg van die Here" mag die betekenis inhou van selfverheffing en grootheidswaan, asof dit sou beteken dat mense darem kennis moet neem van wie ek is! Die Bybelse betekenis van dienskneg of dienaar (Hebreeus = sharat) sou eerder wees om klein en gering te wees, en om in oorgawe en gehoorsaamheid te dien. Wanneer ons klein in ons eie oë en in nietigheid voor God kom staan, weet Hy alles van ons af. Hy wéét dat ons eens met ons rug na Hom gekeer, wegbeweeg het. Maar toe die genade van God ons deel geword het in Jesus Christus, het ons omgedraai en staan ons nou met ons gesig na God toe - voor Sy Aangesig. Ons staan om Hom met 'n oop hart en 'n oop gemoed te dien, met geen roem vir onsself nie. Dit sal beteken dat ons met God se Gees vervul sal wees en dus met 'n lewendgemaakte gees, Hom met oorgawe sal dien terwyl ons Sy lewende Teenwoordigheid dag vir dag in ons binneste sal beleef. Mag God die begeerte by ons opwek om ons hele lewe aan Hom toe te wy en Hom met groter oorgawe te dien in 2008! |