SES GESKENKE VAN JESUS
 
Jou vooruitsigte vir 2008 kan baie positief wees as jy glo aan die beloftes van God. Jou sukses hang nie van jouself af nie, maar word bepaal deur God se liefde, genade en getrouheid. Wat ook al vanjaar vir jou voorlê - stygende pryse, werkloosheid, probleme in jou gesin - niks sal jou kan skei van die liefde van Jesus Christus nie.
Vir iemand wat nie deur Jesus Christus verlos is nie, lyk die lewe leeg en sonder vooruitsig. In werklikheid is dit ook so, want Paulus sê van sulke mense: "Julle het sonder God gelewe en daar was vir julle geen vooruitsig in die wêreld nie" (Efesiërs 2:12).
Wat Jesus Christus jou aanbied, kan jy nie koop nie en niemand sal dit ooit van jou kan wegneem nie:
* LIEFDE wat nie van jou gevoelens of jou verdienste afhang nie, maar op die eindelose goedheid van God gegrond is. "Kyk hoe wonderlik is God se liefde vir ons, want Hy het Christus vir ons laat sterwe toe ons nog sondaars was" (Romeine 5:8).
* 'N NUWE VERHOUDING MET GOD, omdat Christus ons skuld betaal het. "(Christus) het Sy lewe gegee ter wille van ons wat skuldig was om ons na God toe te bring" (1 Petrus 3:18).
* VRIENDSKAP waarop jy kan reken, want Jesus Christus het gesê: "Ek sal nooit van jou af weggaan of jou in die steek laat nie" (Hebreërs 13:5).
* 'N DOEL IN DIE LEWE, want om Jesus Christus te gehoorsaam en vir Hom te lewe, gee sin aan ons bestaan. Hy het gesê: "Ek is die pad na die Vader toe. Ek is die waarheid. Ek is die lewe" (Joh. 14:6).
* VOLKOME SEKERHEID oor ons uiteindelike bestemming. Jesus het belowe: "Ek kom weer om julle te kom haal sodat julle by My kan wees” (Joh. 14:3).
* 'N EWIGE TUISTE, waar niks meer die lewe kan versuur nie, geen haat, selfsug, bekommernis, siekte of dood nie. "Hy sal elke traan van hulle oë afvee en daar sal nie meer dood wees nie. Niemand sal ooit weer hartseer wees of huil nie en daar sal geen pyn meer wees nie" (Openbaring 21:4).
Waar jy aan die begin van 2008 staan, kan jy na die omstandighede kyk en hoop op die beste. MAAR die ander moontlikheid is dat jy jou lewe tot die Here se beskikking kan stel en op Hom vertrou. Dan kan jy die vooruitsig hê dat wat ook al vir jou voorlê, Hy saam met jou sal gaan en jou deur al die omstandighede sal dra. "Wat dit ook al mag wees waarmee ons te doen het, daar is niks, letterlik niks, onder al die dinge wat God geskape het wat ons sal kan wegruk van God se liefde vir ons nie, want Jesus Christus ons Here het daardie liefde vir ons gebring" (Rom. 8:39).

Indeks     Index