GELOOF IS 'N VALSKERM | |
  |
![]() "Roep my aan in die dag van benoudheid. Ek sal jou uithelp en jy moet My eer" ( Ps. 50:15). Dalk het ek ingedommel. Die motor het die pad verlaat. Ek is deur die voorruit geslinger. Dae lank het ek geval. Toe ek my bewussyn herwin, het die dokter my die waarheid vertel en ek het nog verder getuimel. Voortaan sou ek al sukkelende met 'n kunsarm en 'n kunsbeen oor die weg moes kom. Terwyl ek daar in die hospitaal gelê het, was alles om my donker. Die enigste ligstraal was 'n opgewekte verpleegster. Sy het vir my gesê: "Jy moet jou valskerm gebruik." My valskerm… só het sy my geloof genoem. Ek het sinies geglimlag. Sy het nie geweet ek het daardie valskerm reeds in die asblik gegooi nie. Sy het egter nie moed opgegee nie en daagliks oor die ystertralies rondom my bed geloer en my aan die woorde van Psalm 50:15 herinner. Soos Humpty Dumpty het ek na my plek tussen al die skerwe begin soek. Op 'n dag kon ek dit nie langer verduur nie. Ek het die "valskerm" se koord getrek en geroep: "O, God!" Eensklaps het my valskerm oopgevou. My geloof het uit sy plooie gekom. Ek kon voel hoe God my op Sy hande dra. My hele lewe het verander. Selfs my vrou en kinders het dit opgemerk. Voorheen het ek net in die breedte en die hoogte geleef, maar nou het daar diepte gekom. Miskien het 'n mens krukke nodig om God tegemoet te loop. Die hoop op 'n lewende Here Jesus Christus stoot 'n mens vorentoe in en deur die lewe. Dit keer dat jy jou blind staar teen jou omstandighede en in wanhoop versink. Natuurlik word die seile van my lewenskip uitmekaar gewaai en steier ek van bakboord na stuurboord. Maar ek het hoop as anker van my siel, 'n anker wat seker en vas is. My gebede is die kreunende ankertoue van my dobberende skip wat aan die hawepunt geheg is. Daarom is dit so belangrik om altyd te bly hoop. [Uit: Hoop het Vleuels, Leon Oosthuizen, Lux Verbi.BM, 2005]. |