NOU FOCHVILLE!!!
 

Hoe wonderlik het die Heer nie onderneem nie! Danksy ons Vader se genadige voorsiening en ook die welwillendheid van Sy gehoorsame kinders, skop “Goeie Nuus” / “Good News” die nuwe jaar af met uitbreiding na Fochville.
Dit is die 12de dorp waar die “Goeie Nuus” van God se verlossing en volgehoue bemoeienis met elke mens ook hierdie inwoners maandeliks gaan bereik.
Ons harte is só vol dankbaarheid teenoor die Here wat ons sedert 1998, toe Hy aan ons gesin die opdrag gegee het om die “Goeie Nuus” / “Good News” te publiseer, met bonatuurlike krag en voorsiening ondersteun het.
Diegene wat na aan ons leef en bewus is van ons omstan-dighede, kan saam met ons getuig en net in alle ootmoed sê: Dit is NET die HERE wat só kan werk! Prys Sy lieflike Naam!
Soos u sal kan opmerk (grafiese voorstelling aan die regterkant van bladsy), het ons grafiek algaande opwaarts beweeg.
Ons het in 1998 in Potchefstroom met 10 000 eksemplare begin. Gedurende 1999 het ons na Klerksdorp uitgebrei, in 2000 na Stilfontein en Hartbeesfontein, 2001 na Orkney, 2004 na Parys, 2005 na Ottosdal, Tosca en Ventersdorp, 2006 na die Molopo-omgewing, 2007 Delareyville en nou ook na Fochville.
Ons oplaag het van 10 000 eksemplare per maand tot 40 000 p.m. gestyg en met hier-die uitgawe het ons reeds 'n totaal van 3 768 900 koerante gratis van huis tot huis versprei.
Ons grootste begeerte en bede bly steeds dat die Here die “Goeie Nuus” / “Good News” sal gebruik om mense se lewens aan te raak sodat diegene wat Hom nog nie ken as Redder nie, Jesus sal aanneem as Saligmaker en dat Sy kinders aan-gespoor sal word om hul lewens opnuut aan God toe te wy sodat hulle met volharding die geestelike wedloop kan voltooi.
Ons opregte dank aan al ons bidders, adverteerders en blymoedige gewers wat meehelp dat die “Goeie Nuus” / “Good News” maandeliks gratis ver-sprei kan word en ongeveer 160 000 lesers bereik.
U help mee met die uitbouing van God se Koninkryk en sal verseker u beloning van Hom ontvang. Watter vreugde sal dit nie wees wanneer ons eendag die talle siele ontmoet wat gered, genees, gestig, gehelp, bemoedig en aangeraak is deur die “Goeie Nuus” nie!
Mag elkeen van u, asook elke leser, 'n baie geseënde 2009 beleef!
“Ons bid dat Christus deur Sy Gees uit die rykdom van Sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon, en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle in staat wees om saam met die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.
Mag julle Sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God” (Efesiërs 3:16-19 NV).
Baie dankie aan GRW van Adamayview, Klerksdorp (R20) asook Anoniem, Potchefstroom (R1 000) vir u debietordervorms wat ons gedurende Desember ontvang het.
Die bedrag vir Desember 2008 was dus R1 020, wat meegebring het dat die totale bedrag vir Fochville nou op R3 760 te staan gekom het. Daarom is ons fondse nou genoeg om maandeliks ook Fochville te kan bedien!


Indeks     Index