GENADEBROOD VIR DIE NUWE JAAR | ||
  |
Die statige gedreun van die “Genadewa” (my ou voer-tuig) met sy kosbare vrag vol bevrore groente, pasteie, broodmeel, en 'n verskeidenheid blikkieskos bereik hul ore lank voordat hulle ons kon sien. Dit is darem nie die eerste keer dat die Genadewa hierdie tweespoor-paadjie geloop het nie. Vriendelik-glimlaggend stap hy nader en steek by voorbaat hand uit. “Mirrag Paaster,” lag hy oop-mond met die groetslag, “myse hartstenk is nog vol, want ekke het hom juis vanoggend loop volmaak met 'n stukkie se gelees daar by Oompie Dawid se geskrifte” (Psalms van Dawid). Met dié kom sy vroutjie kop-onderstebo nadergeloop met hul jongste styf toegedraai in 'n verslete, bruinwit kombersie. Haar moederhart wil ons stoele toe nooi, maar haar oë steek halsstarrig vas by die oorloop-potte agterop die Genadewa. So staan ons vas by die Genadewa met ons arms wat oor die tralie-werk van die bak hang. Martelend ignoreer ek die woor-delose vrae in beide se oë en vra opgewek uit na die welstand van Pa-goed en Ma-goed. Dan breek die nuuskierigheidsdamwal in hom en soos 'n stroomversnelling kook dit uit sy hart, “En hierdie kossigheid Paaster, waar kom hierdie oorvloedigheid dan nou so skielik vandaan?” Eerbiedig vertel ek hom van Vader se Gewershart en hoe kosbare warm-hart-oop-hand-voorwêreld-mensegoed ruimskoots Jesus se voorsienigheid help uitdra. Dan raak dit stil om die Genade-wa. Standbeeldstil, Goddelik stil. So staan hy daar met sy ligbruin arms stewig om die kartondoos vol kruideniersware gevou. Vergete is die realiteit van 'n leë kosbak wat juis hoeka die middel-punt van hul agtermiddaggepraat was. Woordelose minute spoed soos sekondes verby en steeds staar hulle na dít wat so onwerklik lyk. “Ai Paaster,” snik hy lateraan uit, “myse maagtenk gaan mos nou ook petrol kry, nes myse harts-tenk vanoggend.” Dan verflou die laatmiddag-sonnetjie sommer skielik en sy laaste strale veg verbete om sigbaar te bly. Ek en my mooiste mooi vroulief wil vorentoe, maar ons staning langs die Genadewa saam met hulle is nodig, nes sagte reënwater in die woestyn. Skielik oorval die donker nag ons en ek staar die sterbelaaide hemelstraat op. 'n Hemelruim, verhelder nes 'n kersboom se liggies, met elke ster wat getuig van Sy genadebrood vol hoop en verwagting vir 'n nuwe dag, 'n nuwe jaar en 'n nuwe lewe. Onverdiende genadebrood vir jou en my, styf verpak en toegedraai in Sy laaste “Dit is volbring!” Mag hierdie jaar wat kom, vir jou 'n genadejaar vol oorvloed wees. Mag jy, terwyl Sy genademantel styf om jou gedraai is, met jou Genadewa loop stilstaan by ander, en soos Habakkuk "JESUS" uitjubel, al het jou vyeboom 'n droë jaar beleef! HJ Cronje DIVINE LIFE MINISTRIES Posbus 7, Noenieput, 8813. (Landlyn 054 551 1000). |