GOD SPAAR MY LEWE
 
Maandag, 1 Desember 2008. Ek staan voor ons woonstel in Centurion. Na die uittrek van huurders het ek van Potchef-stroom gekom om die woonstel op te knap en uit te verf. Ek kan nie glo wat ek sien nie! Verdwaas besef ek dat ek 'n baie lang tyd hier besig gaan wees. Vir die volgende 20 dae is dit net suikerseep, water, skuurpapier, die stofsuier en verf wat my vriende is. Die bad is geroes en kort emalje en elke plek waarop my oog val, smeek om aandag!
Ek raak moedeloos en kragteloos van baie min slaap. Ek eet nie behoorlik nie. Gelukkig is my buurvrou 'n kind van die Here en praat my moed in. Sy gee ook daagliks vir my iets te ete. In tye van sukkel en swaar, roep jy die Naam van die Here aan en Hy belowe mos om te luister en uitkoms te gee. So oorleef ek in hierdie tyd.
Op 22 Desember om 20:00 maak ek die deur van die woonstel agter my toe. Ek bedank my buurvrou en sê ook baie dankie aan die Here wat my deurgedra het. Ek bid vir 'n veilige terugreis na Potchef-stroom. Half-elf kom ek tuis en is baie bly om my geliefdes te sien. Die volgende dag spring ek aan die werk om die tuin weer op datum te kry.
Sondag, 28 Desember. Ek voel verskriklik moeg. My rug pyn. Ek sê vir my vrou dat ek net kerk (AGS Potch-Suid) toe sal gaan en daarna by die huis sowaar net gaan rus.
Tydens die gemeentelike same-sang, ervaar ek die Teenwoordigheid van die Heilige Gees in ons midde: “I will soar with You, Your Spirit leads me on by the power of Your love…”
'n Persoon spreek in tale en gee die uitleg daarvan: Die Here sê daar is mense met baie nood en probleme en hulle moet dit na Hom toe bring. Daarna getuig pastoor Africa van ons almagtige Vader se beskerming toe hy en sy vrou met hulle motor onder 'n vragmotor ingery het!
My vrou, dogter en ek sit in die 5de ry van voor. Ons luister aandagtig verder na pastoor Africa se getuienis oor genesing. Hoe kosbaar dat daar deur die wonde van Jesus vir ons genesing gekom het!
Meteens gebeur daar iets vrees-liks met my! Dit voel of my hele liggaam styftrek. Ek voel verskriklik benoud. Ek voel lighoofdig en weet ek gaan flou word. Ek kyk na my vrou en dogter, maar hulle luister aandagtig na die getuienis.
Ek kyk na die deur, maar voel te lam om op te staan. Besluit om my rug meer teen die bank te stut. Toe weet ek verder van niks…
Gemeentelede het begin bid, sommige in tale. My vrou en 'n paar ander persone beweer dat ek dood was: spierwit, koud, lewe-loos en blou om die lippe. Die intreders het egter aanhou roep tot die Here om my lewe te spaar.
Toe ek later my bewussyn herwin, kom ek agter dat ek deur 'n paar mans by die deur uitgedra is. Hoewel ek nog wou teëstribbel, is ek na Medi-Clinic geneem.
By die ongevalle-afdeling het dr. Altona 'n EKG van my geneem. 'n Lae polsslag van 40 slae per minuut was al waaroor hulle besorgd was.
Ek was 'n dag in die Hoësorg-eenheid (ICU) aan 'n EKG-masjien gekoppel. (Daar is 'n EKG in 'n gewone saal en ook 'n stres-EKG op my in die dokter se spreek-kamer gedoen). Die dokter kon geen fout vind nie en ek is op Dinsdag, 30 Desember ontslaan.
Ek wil aan die Here al die eer gee dat Hy my lewe gespaar en vol-kome genees het! Dankie Vader, dankie Jesus, dankie Heilige Gees. Ek eer U!
Baie dankie ook aan almal in die gemeente wat gebid of my op een of ander wyse bygestaan en gehelp het. Mag die Here julle almal ryklik seën!

Indeks     Index