DIE STER IN MY SITKAMER
 
Dis die Saterdagmiddag 4 dae voor Kersfees. Ek word laatmiddag kopseer en bedruk wakker. Dit was 'n moeilike jaar. Sinkplaatpad. Slote, slaggate... dongas.
Daar was storms van ver-keerd verstaan en wrywing. Koue van afsydigheid, soms verwerping. Skemerte van kommer en vertwyfeling. Rukwinde van teleurstelling en ontnugtering. Totale duis-ternis weens die dood van geliefdes.
Soms was ek drenkeling, meegesleur deur 'n golf van vrees en kleingeloof. Soms uitgespoel op 'n eiland van alleen.... Die kersfeesboom is nog in sy boks. Ek besluit om hierdie stukkie ongereformeerde feestelikheid te gaan uithaal. Dis immers net één maal per jaar Kersfees! Gewapen met die boom en die versierings, spring ek aan die werk:
? Goud en rooi geskenkpakkies; ons geskenke aan mekaar; Sy geskenk aan ons.....
? Viole, tromme, trompette, harpe; 'n hele orkes om Sy naam te verheerlik ...
? Klein engeltjies; 'n hele leërskare wat sing tot Sy eer ...
? Goue dennebolle en rooi appeltjies; uit die oorvloed van Sy Skepping...
? 'n String klokke wat lui om die koms van die Kind aan te kondig.
En heel bo-op: 'n Ster. NEE, hierdie een is nie Betlehem se ster nie. Hierdie een is myne, want hier in hierdie huis en onder hierdie dak woon 'n gesin wat ondanks al die storms en teëslae stééds staande is. Ons is almal nog hier! Ons het oorleef, ten spyte van die koue, rukwinde, duisternis, golwe... Want ons Hemelse Vader was áltyd daar, bý ons, elke tree van die pad, hóé ongelyk ook al...
Vanaand skyn Betlehem se ster tóg in my sitkamer!
© Estie Nel-de Jager

Indeks     Index