JA, HERE... EK IS U GEWILLIGE SLAAF! | |
  |
Paulus praat van homself in Efésiërs 3:1 as "die gevangene van Christus Jesus".
Die gebruik van daardie tyd was om alle gevangenes as slawe te behandel. 'n Slaaf het geen wil van sy eie gehad nie, kon niks eis vir dienste gelewer nie en het basies geen regte gehad waarop hy aanspraak kon maak nie.
In die Romeinse gevangenis het Paulus nie in opstand gekom teen omstandighede of die behandeling wat hy ontvang het nie. Nêrens lees ons dat hy in opstand teen God gekom het of geïmpliseer het dat hy oor sekere regte beskik en dus beter behandeling van God eis nie. Nee, hy sien homself as 'n slaaf en vir hom bestaan daar slegs een wil - nie syne nie, maar dié van sy Heer. Hierdie gedagte behoort nie slegs op Paulus van toepassing te wees nie. Elke mens wat wedergebore is, is uit die slawerny van duisternis losgekoop deur Christus Jesus en behoort dus aan Hom. Nou staan ons nie meer onder die heerskappy van die verwoester nie, maar onder die heerskappy van Jesus wat ons liewer as Homself gehad het! Daarom sê Paulus: "Want die liefde van Christus dring ons" (2 Kor. 5:14). Hy bely hiermee dat hy geen ander taak, geen ander doel het as dít wat God aan hom opgedra het nie. Kan u en ek ook dieselfde sê? Daar lê 'n nuwe jaar voor ons. Is ek só besig met my eie drome, ideale en planne vir 2010 dat ek vergeet dat ek eintlik aan Christus behoort en dat Hy eerste aanspraak op my lewe het? Dat ek in die eerste plek aan Hom verantwoordelik is vir wat ek met my lewe doen? Dat ek Sy dienskneg, Sy slaaf is wat my besig behoort te hou met die sake van God se Koninkryk? Mag Hy gedurende 2010 van elkeen van ons kan sê: "Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, só besig sal vind" (Lukas 12:43). "Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat Sy liefde vir my bewys het deur Sy lewe vir my af te lê" (Gal. 2:20). |