VOORLANGSMENSE | |
  |
Ek het eenmaal gehoor van 'n jong huisvroutjie wat baie min tyd gehad het om die huis aan die kant te maak. Sy besluit toe om alles sommer so voorlangs skoon te maak. Al die goed wat rondlê, word sommer in die ingeboude kaste geprop, die kinders se speelgoed word woerts-warts êrens ingegooi, en daar word gestofsuig dat dit 'n naarheid is behalwe onder die beddens en agter die kaste. En siedaar! Die huis is aan die kant! Is dit nie wat soms ook op geestelike gebied gebeur nie? Ons het 'n behoefte om ons geestelike lewens in orde te kry en pas 'n kitsresep toe soos 'n vinnige maer-word-dieet. Dan verwag ons die wonderlikste resultate! Maar God wat onder die bed en agter die kaste sien, is nie tevrede met ons flou pogings om ons geestelike lewens aan die kant te kry nie. Jesus het met Johannes oor die Eindtyd-Kerk gepraat toe Hy vir hulle gesê het: "Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou. Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My" (Op. 3:18-20 OV). Ons moet drie dinge van Hom koop: goud, wit klere en oogsalf sodat ons geestelike vordering kan maak. Let op, ons moet dit "koop". En koop beteken dat ons dit teen 'n prys moet bekom. Die prys is verootmoediging en selfontlediging voor Hom in gebed, sodat Hy ons met Homself kan vervul. GOUD: In Job staan geskryf: As jy tot die Almagtige terugkeer, sal jy gebou word; as jy die onreg verwyder uit jou tent. En gooi die gouderts in die stof en tussen die rotse van die spruite die goud van Ofir. Dan sal die Almagtige jou gouderts wees en stawe silwer vir jou. Want dan sal jy in die Almagtige jou verlustig en jou aangesig tot God ophef.Jy sal tot Hom bid, en Hy sal jou verhoor; en jy sal jou geloftes betaal (Job 22:23-27 OV). Dit beteken dat ons letterlik afstand moet doen van materialisme. Nie summier al ons besittings en geld weggee nie, maar van die liefde daarvoor en die liefde vir die gemak wat dit meebring, afstand doen. Ons moet God méér liefhê as ons besittings! Dan sal Hý ons gouderts wees. Gouderts moet gedelf word. Ons sal diep moet delf in ons verhouding met God om die rykdom van geestelike skatte te bekom. Dit word nie sommerso voorlangs en op die grond rondgestrooi nie. Hierdie rykdom moet “gekoop” word! Petrus verklaar: "…sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus" (1 Pet. 1:7 NV). WIT KLERE: Ons moet in gebed voor Hom kom met die wete dat nét Hy ons kan reinig deur die Bloed van Jesus. Alles wat skeiding maak tussen ons en Hom sal uit die weg geruim moet word. Soos die huisvrou soms die pot met 'n skuurdraad moet skuur, sal ons vir God moet vra om ons te verlos van dinge wat so vasgegroei het in ons karakter dat dit as’t ware deel van ons persoonlikheid geword het. Ons móét daarvan verlos word. Soos ons 'n bleikmiddel gebruik in ‘n proses van diepreiniging om ons klere spierwit te kry, moet ons Hom vertrou om 'n diep reinigingswerk in ons te doen, sodat ons skoon kan word in Sy Oë. Ons moet wit klere by Hom kom "koop"! OOGSALF: Ons moet ook oogsalf "koop" om ons oë te salf sodat ons kan sien! Net God kan daardie salf gee. In ons eie oë lyk ons lewe skoon en reg totdat God ons aan onsself openbaar soos Hý ons sien. Die "salf" van ons eiegeregtigheid sal net ons oë toesmeer sodat ons nie kan sien nie. 'n Ander se opinie sal ook nie help nie. Want as een blinde 'n ander blinde lei, sal albei in die sloot val. Ons moet by God uitkom om die salf by Hom te "koop". Dan sal ons kan sien, omdat ons deur Sy Gees gelei sal word. Laat ons in 2010 nie voorlangsmense wees nie, maar by God die goud, die wit klere en die salf "koop" sodat ons "reiniging" deur Hom goedgekeur kan word. Dán sal ons lewens Hom behaag! |