MENSEHANDEL - 'N VERHAAL VAN HOOP | ||
  |
Die Suid-Afrikaanse polisie het in Mei 2010 'n klopjag op 'n pakhuis uitgevoer en potensiële slagoffers van mense-handel daar gevind. Die lede van die narkotika-buro het 5 tienermeisies gered wat vermoedelik slagoffers van beoogde mensehandel sou wees - slagoffers van 'n groep wat vanuit 'n klein pakhuis in Parow gewerk het. Die narkotika-buro het na aanleiding van 'n wenk die pakhuis die vorige aand binnegegaan en die meisies in 'n bondel bymekaar in 'n hoek gekry waar hulle hul besittings vasgeklou het. Ou matrasse het gesaai op die sementvloer gelê - met beddegoed daaroor gegooi. Een van die jongmeisies het die vorige week 'n miskraam gehad, maar het geen mediese hulp ontvang nie. Hulle is vanaf dorpe soos Prieska in die Noord-Kaap na Kaapstad gelok met aanbiedinge van goeie werksgeleenthede en salarisse. Hulle beweer dat hulle soggens net snye droë brood, en saans 'baked beans' vir aandete gekry het. Hulle sê ook dat hulle gevange gehou is, van hulle selfs tot so lank as 4 maande. Die narkotika-buro het ook 'n soortgelyke organisasie in Table View 'n maand voor hierdie voorval ontbloot, waar vroue uit Mosambiek en Zimbabwe na bewering vir mensehandel gebruik is. Hierdie meisies wat in Parow gevind is, is nog nie vir prostitusie gebruik nie, wat beteken dat hulle hul lewens nuut kan begin, sonder die bagasie van sekshandel! Hulle word tans deur Youth with a Mission gehelp en kry ook die kans om van Jesus te hoor en van die ware vryheid wat in HOM alleen gevind kan word! Kom ons loof en prys God vir Sy goedheid! (Saskia Wishart, Suid-Afrikaanse Koördineerder, Not for Sale Campaign). [Uit: Jerigo Mure, Desember 2010]. |