DIE EK IN DIE SPIEËL | |
  |
'n Lewe sonder selfondersoek is nie die moeite werd om te lewe nie - Anoniem. Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie (2 Korintiërs 13:5). Ons het min tyd. Ons hardloop van een vergadering na die ander. Ons vlieg oor kontinente gewapen met ons skootrekenaar en selfoon. Wanneer moet ons tyd vir selfondersoek kry? Hardloop ons só omdat ons bang is om stil te raak met onsself? Ons sien dan die verskriklike ék in die spieël. Ons het tyd nodig om na te dink oor ons lewe, ons geloof, ons pad van gister en ons rigting van môre. As ons dit nie doen nie, word ons vreemdelinge vir onsself en vir mekaar. Gelukkig hou God nie op om aan ons te dink nie. Here, ek bely vandag voor U dat ek graag ander kritiseer, maar dat ek so min na my eie gedrag kyk. Wil U my deur U Gees lei om elke dag in selfondersoek voor U te buig. In Jesus se Naam vra ek dit. Amen. [Pitkos vir die Pad, Annes Nel, CUM, 2004]. |