HOU AAN CHRISTUS VAS
  Julle het gehoor dat Christus Jesus die Here is en dit geglo. Leef dan elke dag in die nouste verbintenis met Hom, want Hy is die grond waarin julle nou groei en die fondament waarop julle nou gebou word.
Julle moet al sterker word in die geloof soos julle dit geleer het; laat julle harte altyd vol dankbaarheid teenoor God wees.
Moenie toelaat dat iemand julle oorrompel en vasvang met slim-mighede en argumente waarin daar niks steek nie. Want al vertel hulle julle wat ander mense gesê het en al redeneer hulle oor die belangrikste dinge waarvan mense weet, bly dit nogtans iets wat van mense af kom en nie van Christus nie.
Dit is alleen in die geval van Christus dat God met alles wat Hy het in 'n menselewe kom woon het. En julle het reeds alles wat God vir julle wou gee, want julle is aan Christus verbind. Hy is die hoogste gesag wat daar is en Hy het seggenskap oor alles.
Omdat julle aan Christus behoort, is julle ook besny, maar dit is nie die letterlike besnydenis nie. Die besnydenis van Christus beteken dat 'n mens die ou sondige geaardheid eenkant sit - julle is saam met Hom begrawe toe julle gedoop is en julle het saam met Hom in 'n nuwe lewe ingegaan omdat julle glo dat God deur Sy krag vir Christus weer lewendig gemaak het.
Vroeër was julle dood omdat julle behoort aan die nie-Joodse nasies wat sonder die wet van God leef en julle het 'n lewe van sonde gelei. Maar nou het God julle saam met Christus lewendig gemaak en al julle sondes vergewe. Hy het 'n streep getrek deur die rekening van ons skuld, die lys van al die wette wat ons oortree het. Dit het alles teen ons getel, maar God het hierdie rekening tot niet gemaak toe Hy dit teen die kruis vasgespyker het. Hy het vooraf die bose magte van die duiwel ontwapen en in die openbaar gewys watter skandelike neerlaag hulle gely het, want Hy het hulle heeltemal oorwin deur wat Christus gedoen het.
Moet dan nie sleg voel as iemand julle kom kritiseer oor wat julle eet of drink of oor Joodse feeste of nuwemaan of sabbat nie. Hierdie dinge was maar net 'n flou skaduwee van die werklikheid wat sou kom - en die werklikheid is Christus. Moenie toelaat dat iemand vir julle kom wysmaak julle is op die verkeerde pad nie, al is hy ook iemand wat visioene sien en baie nederig is en die engele aanbid. So iemand bly nie vashou aan Christus wat die Hoof van die kerk is nie, want dit is deur Hom wat ons bymekaar gehou word net soos die senings en spiere die liggaam aanmekaar hou. Dit is ook deur Hom dat ons groei, want God gee ons die krag. Julle het saam met Christus gesterf sodat die beginsels van hierdie wêreld nie meer op julle van toepassing is nie.
(Kolossense 2:6-20(a), Die Lewende Bybel).

Indeks     Index