WEES NET JOUSELF!
  “Opregte mense vermy die kwaad op hulle lewensweg; wie nou-geset lewe, hou homself in die lewe” (Spreuke 16:17 NV).
Opregtheid is die eienskap van 'n ware Christendissipel. Daarom: Wees wat jy voorgee om te wees! Leef volgens jou geloofsbelydenis.
* Wees nougeset opreg in die klein dingetjies van die lewe, want hulle is dikwels die voorspel tot groot dinge. Onopregtheid in jou jeug, sal jou as volwassene onbetroubaar bewys: 'n huigelaar in die samelewing; 'n skynheilige in die kerk; 'n bedrieër in die sakewêreld. Klein onopregthede groei vinnig en welig soos die ergste soort onkruid. Daarom moet jy soos in 'n tyd van geweld, wagstaan oor jou opregtheid.
* Onopregtheid is 'n plant wat tierend en weelderig groei en later onstuitbaar word. Die onopregte is gedurig in 'n toestand van onsekerheid en verwarring oor homself omdat hy die standhoudende ankers in sy lewe prys-gegee het. As jou gewete nie sensitief en jou verhouding met die Meester nie intiem is nie, sal jy nooit die moed hê om die kettings van onopregtheid en huigelary van jou af te gooi nie.
* Bedrog kan by jou tweede natuur word. Jy raak van waarheid vervreem, innerlik vals, en verslaaf aan selfbedrog. So verloor 'n onopregte mens sy self-respek stuk vir stuk. Dis 'n pad van selfvernietiging en al het jy maar net 'n klein entjie op dié pad gevorder, beroep jou op die genade en genesende krag van Jesus Christus.
* Opregtheid is die fondament van 'n standvastige karakter. Elke ander deug word geneutraliseer deur 'n gebrek aan opregtheid; elke gawe van God word nutte-loos. Opregtheid is onontbeerlik vir elke verhouding in ons lewe: tussen man en vrou in die huwelik; tussen ouers en kinders in die gesin; tussen werkgewers en werknemers; leraar en die gemeente; die mens en sy God!
Deur opregtheid word die geluk van alle mense bevorder en die Koninkryk van God gebou.
Heilige Vader, U ken my hart en weet of ek werklik opreg voor U wandel. Laat my deur die leiding van die Heilige Gees alle onopregtheid aflê en opregtheid nastreef.
[Met GOD op pad! Solly Ozrovech en ander skrywers, CUM, 1994].

Indeks     Index