SAL JY DIE TOETS SLAAG?
  Die bewys van 'n mens se ware karakter is wat hy sou doen indien hy nooit uitgevang sou word nie (Thomas Macaulay).
Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense (Filippense 2:15).
Integriteit is seker een van die seldsaamste dinge wat 'n mens teëkom. Jy kan nie meer aldag seker wees wie jy kan vertrou nie. Baie mense probeer wegkom met 'n geknoeiery.
Ek wonder hoeveel van ons die toets sal slaag wat Thomas Macaulay hierbo aan ons karakter stel. Ek dink ons doen maar almal dinge in die geheim. Wie sal tog uitvind?
Paulus se woorde aan die gelowiges in Filippi benadruk dat ons in 'n samelewing waar korrupsie en bedrog, skinder en agterbaksheid hoogty vier, anders as die wêreld moet wees. Wat ons agter ander mense se rug sê en doen, moet só wees dat ons dit ook voor hulle kan sê of doen.
Here, U ken my deur en deur. Maak my 'n deursigtige mens voor U en voor die mense. Dankie dat U dit sal doen deur U Gees. Amen.
[Pitkos vir die Pad, Annes Nel, CUM, 2004].

Indeks     Index