JESUS KEN DIE BEGIN EN DIE EINDE VAN DIE STORM!
 
André, Marésa & Rita Theron

Op Donderdag 25 April 2002 gaan ek vir 'n kolonoskopie. Dis maar net 'n ondersoek - niks om voor bang te wees nie. Môre is ek weer by die werk. Maar die lewe is nie altyd soos ons dit beplan nie! Tóg loop die Here saam met ons die pad, wat ook al gebeur…
Die uitslag van die toetse? 'n Kwaadaardige gewas in my dikderm! Dit het vir my gevoel asof 'n doodvonnis oor my uitgespreek is. (My suster is aan kanker van die maag oorlede toe sy so oud was soos ek op daardie tydstip). Daarna het alles baie vinnig gebeur! Dieselfde aand nog is ek geopereer. Die internis was tevrede dat alles goed verloop het, maar in my het 'n doodsheid posgevat. Die eerste week neem ek byna niks waar nie. Dit was asof alles met iemand anders gebeur: hoësorgafdeling, masjiene, “drips”, bloedoortappings, ens. Dan in die algemene saal: pyn - mense word ingestoot en gaan huis toe - nuwes kom en gaan huis toe, maar ék bly! En die gevoel van doodsheid bly!
Talle mense kom bid, gee vir my Skrifgedeeltes om aan vas te hou, maar ek wil dit nie nou hoor nie. Ek wens ek kon net vir almal sê om my uit te los. Ek wil nie hoor die Here gaan my gesond maak nie. Ek kan selfs nie eens bid nie! Genadiglik het die Here so baie getroue kinders wat aanhou bid en nogmaals bid. Hy stuur hierdie mense sonder ophou na my toe. Behalwe al my kerkmense en vriende het Hy spesiaal vreemdes my pad langs gestuur met wonderlike boodskappe van versterking en opbouing.
'n Bra onbekende persoon kom besoek my en sê hy gebruik al 10 jaar lank die sakkie en geniet nogtans 'n gelukkige en vervulde lewe. Ek moet net glo die Here sal voorsien. Daar gaan die "dips" kom, maar telkens wanneer ek "onder" is, moet ek weet dat as ek weer "bo" uitkom, ek nader aan die Here sal wees.
Pastoor Japie Venter en sy vrou kom besoek my en ek vertel hulle van hierdie "blok" (doodsheid) in my gemoed en my skuldgevoelens daaroor. Hy gee vir my Ps. 23:4 - "Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my" en ook vers 2: "…na waters waar rus is lei Hy my heen". In die Nuwe Vertaling lui vers 4 so: "Selfs al gaan ek deur donker dieptes sal ek nie bang wees nie, want U is by My. In U hande is ek veilig." Al gaan ek dus deur 'n dal van geestelike en emosionele dood-skaduwee (doodsheid), is God by my en Hy sal my weer na waters waar rus is, lei. Al voel ek hoe ver verwyderd van die Here, Hy hou my styf vas in Sy arms. Soos 'n ma haar kind wat seergekry het koester, so koester Hy my in hierdie moeilike tyd.
Toe stuur die Here 'n dame van Bloemfontein na my. Haar boodskap was net so treffend. In Markus 4 vanaf vers 35 lees ons hoedat Jesus 'n storm op see stilmaak. Jesus het aan Sy dissipels opdrag gegee om na die oorkant van die meer te vaar. Toe het Hy gaan slaap. 'n Storm het opgekom, hulle het bang geword en Hom wakker gemaak met die uitroep: "Gee U nie om dat ons vergaan nie?" Die dissipels het geweet dat Jesus in beheer was.
Daarom sou die storm nie die boot laat vergaan nie, want Jesus was daar. JESUS KEN DIE BEGIN VAN DIE STORM, MAAR OOK DIE EINDE DAARVAN! As ons net ons geloof ten volle op Hom plaas, sal die storms van die lewe ons nie onderkry nie. Ons hoef nie aan te hou roep en smeek nie. HY WEET!
'n Dame van Heidelberg kom, 'n sakevrou. Ons het nog nooit vantevore oor die Here gepraat nie. Nóú praat sy nie besigheid nie, maar sê vir my dat Jesus aan die kruis vir my siekte gesterf het en dat Hy die dood en die doderyk oorwin het om van my ook 'n oorwinnaar te maak. Ek moet dit net uit Sy Hand neem en vashou aan die belofte dat Sy kruisdood ook vir my siekte was.
En so het die Heer aangehou om my deur middel van Sy kinders met kosbare gedagtes en Skrifgedeeltes te bemoedig en versterk! Ek dank die Here vir elkeen wat die moeite gedoen het om my te besoek en te bemoedig.
Gedurende die tydperk April 2002 tot Augustus 2004 het ek 8 operasies ondergaan. Dit was 'n tyd van pyn en gemengde gevoelens. Dán was 'n operasie geslaagd en dán het daar weer probleme in my liggaam ontstaan. 'n Vriendin sê op 'n dag vir my dat God net wil hê dat ek op Sy skoot moet klim en Hom vashou. Ek mag my seer by Hom uithuil, want Hy is my Vader.
Dieselfde dag lees ek in 'n boekie "My las is lig". Hy neem nie altyd die las weg nie, maar dra ons met las en al. Later dieselfde dag bel my skoondogter en sê iemand in haar gemeente het vir my gebid en die Here gevra om my net op Sy skoot te tel, Sy arms om my te slaan en my te dra. Die Here bevestig aan my drie keer op dieselfde dag dat HY my sal dra! Daardie dag het die Here vir my kalmte, rus en vrede in my gemoed gegee. Ek was daarvan verseker dat Hy in beheer van my lewe is en my sal dra totdat die storm in my lewe verby is.
Maar die vyand is nie tevrede as die Here ons aanraak nie. Einde Nov. 2004 begin ek verlam raak aan my linkerkant. Op 8 Des. 2004 gaan spreek ek my geneesheer en hy vermoed 'n ligte beroerte. Hy stuur my vir 'n breinskandering. Die bevinding? 'n Ernstige breingewas! Die onkoloog sê ons moet dadelik met bestraling begin, wat toe ook gebeur. Die gewas was van so 'n aard dat hulle nie kon opereer nie en geen genesing kon waarborg nie, al kry ek bestraling en chemoterapie.
Februarie 2005 stel my dokter my in kennis dat hulle medies gesproke niks meer vir my kan doen nie. Die chemo kan die kankergewas vir 'n wyle laat krimp, maar ek moet my gereed maak dat ek sal sterf aan die breinkanker. Maar die Here is nie gebonde aan skanderings en chemo nie; selfs nie aan die noodwendige doodsvonnis nie.
Sondagmiddag 24 April 2005 kry ek die dringende begeerte om die aanddiens by te woon. Pastoor Jannie du Plessis onderbreek sy boodskap en sê dat daar iemand in die gehoor is wat kanker het en die Here sê Hy gaan daardie persoon genees. Hy nooi die persoon uit om na vore te kom. Ek kon nie bly sit nie en het na vore gestap. Hy en pastoor Sampie Cronjé het my gesalf met olie en vir my gebid.
Op 29 April 2005, 3 jaar nadat kanker die eerste keer in my liggaam gediagnoseer is, gaan ek weer vir toetse en skanderings. Die uitslag: die breingewas is weg! Daar is net 'n letseltjie waar te neem, maar geen teken van die gewas self nie! Die Here het my aangeraak en die onkoloog het self ook erken dat dit 'n ingryping van Bo was. Ek moes reeds dood gewees het, siende die omvang van die breingewas.
Ek wil net vir die Here baie dankie sê vir alles wat Hy vir my gedoen het!
Ek wil ook vir al die mense wat my vir 3 jaar lank ondersteun en vir my gebid het, baie dankie sê. Kinders van die Here: Moet nooit moeg word om mekaar te ondersteun en vir mekaar te bid nie!
Ek wil ook die personeel van die Hoër Tegniese Skool en in die besonder vir mnr. Chris de Villiers, die hoof, wat verder as 'n tweede myl met my gestap het, van harte bedank vir hulle wonderlike ondersteuning in hierdie tyd. Aan my man, kinders en klein-kinders 'n groot dankie vir julle opoffering en ondersteuning en ook aan my "boeties en sussies" van die omgee-selgroep wat my met woord en daad bygestaan het. "Some people come into our lives and quickly leaves, while some stay a while, leaving footprints on our hearts and we are never the same."
Ek kan nie anders nie as om af te sluit met: "Hosanna! God is groot! Loof Sy dierbare Naam!”

Indeks     Index