DIE ADVOKAAT | |
  |
'n JONG DAME het onverwags beide haar ouers in 'n motorongeluk verloor. Hulle geldelike sake was nie in orde nie en daar is vermoed dat hulle ook nie ‘n behoorlike testament gehad het nie. Skielik was daar ander familie wat ook op die boedel aanspraak begin maak het en die kanse dat die jong dame iets sou kry van die bietjie wat oorgebly het, was maar skraal. 'n Vriend van die familie, 'n advokaat, het die jong dame besoek en aangebied om ter wille van haar ouers wat hy goed geken het, die sake vir haar te behartig en in orde te bring. Sy het egter nie die nodigheid gesien dat die advokaat hom met hulle sake inmeng nie en besluit om liewer self haar sake te reël. Na verloop van enkeie maande egter, het sy besef dat sy self nooit 'n oplossing vir die probleem sou kry nie en het sy besluit om maar die advokaat se aanbod te aanvaar. Sy het hom daardie selfde aand besoek en vertel van haar gesukkel om die saak af te handel. Hy het stil gesit en luister terwyl sy praat en toe sy klaar was, sê hy: “Ek is baie jammer - ek kan nou niks vir jou doen nie. Jy het te laat gekom. Ek is onlangs aangestel as regter en my werk as advokaat het geëindig.” Die Here Jesus, wat vandag nog vir ons intree by die Vader, wat ons wil verlos van al ons sondes en vir ons die ewige lewe wil skenk, sal nie altyd ons “advokaat” wees nie. Eendag sal Hy die Regter wees wat die oordeel moet vel oor diegene wat Hom hier op aarde verwerp het, en dan sal dit te laat wees om Sy hulp in te roep. “Soek die Here terwyl Hy te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is" (Jesaja 55:6). "Vandag, as julle Sy stem hoor, verhard julle harte nie.” (Hebreërs 3:7-8). Die REDE waarom ONDERVINDING so ‘n harde skool is, is omdat jy eers die toets kry, en dan die les leer. [Uit: Die Bode, Jan.-Mrt. 2002]. |