TREE HANDELEND OP! | |
  |
Ek lees die verhaal van ‘n predikant wat ‘n boer besoek het. Die boer wys hom toe so ‘n bietjie rond op die plaas.
Hy wys ook sy landerye trots aan die predikant en sê hoe pragtig die graan groei wat hy geplant en versorg het.
Hierop word hy tereggewys, want, sê die predikant: “You didn’t grow those crops. God did.” Waarop hy antwoord: “Yes, that’s true, but I helped. In fact, let me show you the field that I let God grow all by Himself!” Alhoewel die boer vir ons arrogant mag voorkom, is daar tóg ‘n les te leer: óns moet ook óns deel doen om God se werk te bevorder hier op aarde. Dit herinner aan die geskiedenis van Moses toe hy die volk Israel uit Egipte gelei het op pad na die Beloofde Land. Toe hulle by die Rooi See kom, was die Egiptenare wat hulle agterna gesit het, reeds baie naby om hulle te oorweldig. Groot benoudheid het hulle oorval, maar Moses het gesê: "Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees" (Ex. 14:13-14). Moses gaan egter voort om tot die Here te roep. Maar God sê vir hom: “Wat roep jy na My? Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet wegtrek. En jy, hef jou staf op en steek jou hand uit oor die see en kloof dit, sodat die kinders van Israel dwarsdeur die see op droë grond kan trek” (Ex. 14:15-16). Wat God in werklikheid vir Moses sê, is: “Wat roep jy so aanhoudend tot My? Staan op, tree handelend op, en Ek sal met jou wees om jou te help!” Is dit nie ook wat Jesus bedoel het toe Hy met Sy hemelvaart gesê het nie: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.” (Matt 28:19-20). Hy gee ons ‘n taak om uit te voer: Ons moet die Evangelie gaan verkondig in die hele wêreld. In die proses van verkondiging is Hy met ons om ons te ondersteun. Maar óns moet handelend optree. Sy Woord moet verkondig word, en Hy gebruik mense om dit te doen! Paulus sê: “Want ons is mede-werkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle” (1 Kor 3:9). Ons moet dus biddend wees, maar ons moet ook werkend wees. Dan word ons aktiewe Christene. Anders bly ons altyd passiewe Christene. Roep in herinnering: Is daar iets wat jy moet doen vir die Meester? Het daar met tye ‘n gedagte by jou opgekom om iets te doen aan die nood van ander? Sien jy die krisisse van ander mense raak? Roer dit jou hart? Het jy dalk ‘n intense medelye vir mense, soveel so dat jy aanhoudend vir hulle wil bid? Ervaar jy ‘n gebedslas vir mense wat van God verwyderd is, en wil jy graag sien dat hulle hul tot die Here bekeer? Indien wel, dan sê die Here vir jóú óók vandag, soos Hy vir Moses gesê het: “Wat roep jy so aanhoudend tot My? Staan op, tree handelend op en Ek sal met jou wees om jou te help!” Laat ons VANDAG NOG opstaan en handelend optree! |