TOE JESUS IN 'N HOEK IN GEGLO IS | |
  |
Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon toe vertrek. 'n Kanaänitiese vrou wat in daardie gebied gewoon het, het onverwags by Hom aangekom. Sy het aanhoudend geroep: "Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van 'n bose gees, en dit gaan sleg." Maar Hy het haar niks geantwoord nie (Matt. 5:21-23). Die meeste van ons het grootgeword met die opvatting dat dit verkeerd is om te ernstige vrae oor die sin van die lewe te vra. "Jy moet eenvoudig maar aanvaar wat oor jou lewenspad kom en daarby berus, want daar is 'n doel met alles," is min of meer die raad wat 'n mens gewoonlik moet aanhoor as jy deur die een of ander krisis worstel. Terselfdertyd word dit ook as taboe beskou om vrae oor God se wil te vra of met Hom swaarde te kruis oor jou probleme. Hierdie tipe uitsprake het natuurlik groot byval in die volksmond gevind, dit het as't ware deel van die populêre evangelie onder baie van ons mense geword. Natuurlik rym hierdie soort uitsprake nie regtig met die inhoud van die Bybel nie. Ten eerste is God se wil nie so vas en onbuigsaam dat Hy glad nie daaraan kan verander nie. Ons as mense is nie deel van 'n voorafvervaardigde hemelse videoprogram wat nou willoos afspeel nie. Die Bybel wemel van voorbeelde waar God Sy planne op kort kennisgewing ingrypend verander het. So het Hy byvoor-beeld in reaksie op Hiskia se gelowige gebed sy sterfdatum met 'n volle vyftien jaar uitgestel (Jesaja 38). God het ook Sy klaar aangekondigde doodstraf oor Nineve opgehef na hulle hartgrondige berou (Jona 4). Dinge soos gebed en bekering het dus ‘n groot uitwerking op Sy wil. Bo en behalwe die feit dat God se wil kan verander, is dit ook waar dat Hy toelaat dat mense van Hom verskil en dit selfs met Hom kan bespreek. In Matteus 15 lees ons van 'n Kanaänitiese vrou wat op 'n goeie dag met Jesus paaie gekruis en toe die moed gehad het om radikaal van Hom te verskil. In dié proses het sy boonop iets reggekry wat die meeste van ons as ondenkbaar sou beskryf: Sy het vir Jesus op die ou end in 'n hoek in gepraat en geglo, sodat Hy uiteindelik geen ander keuse gehad het as om haar haar sin te gee nie. Kom ons begin heel voor. Matteus vertel vir ons in sy Evangelie dat Jesus se aardse sending hoofsaaklik op die verlore skape van die huis van Israel gerig was (Matteus 10:6). Hy wou die verbondsvolk teruglei na die Bron van die Lewe toe. Daarom het Jesus in die verskillende dorpies in Galilea vir die Jode vertel dat Hyself God se Koninkryk na hulle toe gebring het. Op 'n dag terwyl Hy hiermee besig was, het Hy deur die gebied van Tirus en Sidon gereis toe die Kanaänitiese vrou uit die bloute op Hom afkom. Sy was van heidense oorsprong, maar dit het haar nie gekeer om tog na Jesus toe te kom nie. Sy het die goeie berigte oor Hom gehoor, en vanweë die krisis met haar duiwelbesete dogter het sy besluit dat Hy haar kon help. Haar pleitredes tot Jesus dat Hy haar kind moes bevry, het aanvanklik op dowe ore geval en Jesus het haar heeltemal geïgnoreer. Die dissipels, wat baie ontsteld was oor die feit dat 'n vrou (en nogal 'n onrein heidense vrou daarby), dit gewaag het om in die openbaar met Jesus te kom praat, wou haar dadelik verwilder. Maar selfs dit het haar nie afgeskrik nie. Hierop het Jesus vir haar gesê dat Hy slegs na die verlore skape van Israel toe gestuur is. Hy kon nie op kort kennis-gewing Sy sending ter wille van een heidense vrou wysig nie. Maar steeds het sy nie die handdoek ingegooi nie: "Help my, Here," het sy pleitend gevra. Hierop het Jesus haar skerp aangespreek deur te sê dat sy as heiden nou die brood (dit wil sê, die evangelie wat Jesus bring), uit die kinders (Israel) se monde wil vat, en dat dit nie reg is nie. Hierop het die vrou 'n laaste desperate troefkaart gereed gehad: "Here, gee maar net vir my die krummeltjies wat van die tafel afval." Sy was tevrede met net 'n krieseltjie van God se genade. Jesus kon maar voortgaan met Sy sending aan Israel, solank as wat Hy net so 'n ietsie van Sy genade na haar kant toe aangee. Ná hierdie woorde was Jesus in 'n hoek. Hy het nie meer teenantwoorde gereed gehad nie. Daar en dan het Hy toe haar geloof aangeprys en haar wens toegestaan. Jesus was bereid om ter wille van die geloof van een vrou, wat Hom letterlik in 'n hoek in geglo het, Sy sending te wysig. Natuurlik het Hy dwarsdeur Sy aardse optrede die deur na die Koninkryk van God vir die heidene oopgehou. Maar nou doen Hy dit "amptelik" deur in die openbaar te wys dat Sy Koninkryk ook vir hulle bedoel is. Volhardende geloof, geloof wat 'n mens desperaat op jou knieë voor God laat neerval en jou al pleitende daar hou, beweeg Sy hart en hand. Wanneer jy soms deur die lewe in 'n hoek vasgedruk word en dit vir jou voel asof daar 'n besetkode na die hemel toe is, moet jy nie te gou handdoek ingooi nie. Geloof beteken om in sulke omstandighede juis met God te bly praat, om as't ware die lyn weer oop te bid. God is nooit doof vir opregte gebed nie. Hy is bereid om na enige saak te luister wat meriete het. Jesus het dit duidelik geïllustreer deur Sy bereidwilligheid om "omgepraat en omgeglo" te word deur 'n vrou wat so desperaat om hulp gesoek het dat sy nie nee vir 'n antwoord wou aanvaar nie. Wil jy nie ook 'n slag so dapper begin glo nie? [Uit: Dit kos guts om te bly glo, Stephan Joubert, Lux Verbi.BM, 2003]. |