HY HET WEGGEGAAN... OM BY ONS TE WEES
 

(Jesaja 40:9-11)
'n Aantal jare gelede was daar 'n aangrypende foto op die voorblad van 'n koerant van 'n vrou wat alles in die lewe verloor het. Sy moes huis en haard verlaat om na 'n vestigingskamp in die voor-malige Ciskei oorgeplaas te word. In 'n onderhoud met die verslaggewer verklaar sy moedeloos: "I am hungry now as I am sitting here. Everybody has died. My man has gone and died, so have my daughters. They took my land away. The Lord has also gone, yes, I suppose He has also gone."
God is weg. Dit is die ergste wat enige mens kan ervaar, die diepste put waarin jy gegooi kan word, die moeder van al jou krisisse. Daarnaas is alle ander dinge, hoe erg hulle ook al mag wees, kinderspel. Trouens, al die ellendige dinge wat na jou kant toe kom, kan slegs simptome wees, klein onderafdelings van hierdie groter, allesomvattende ellende: wanneer God weg is. Dis wanneer jy die gevoel kry dat God Self in die verskriklike dinge van die lewe wegkruip, dat Hy Homself daarin vir jou verborge hou. Hierdie verborgenheid van God is die ergste van alles, dis die eintlike erge in die erge (Van Ruler).
Israel moes iets dergeliks tydens hulle ballingskap ervaar het. 'n Ander woord vir ballingskap sou kon wees: Godverlatenheid. Dat hulle van hulle grond af weggeneem is, was erg. Dat hulle bekende lewenspatroon in stukke gebreek is, was erg. Dat hulle God, Jahwe, skynbaar die stryd teen Marduk, die god van Babel, verloor het, was erger as erg. Maar dat God hulle verlaat het, hulle oorgegee het aan hulle eie lot en hulle eie skuld, dít was die ergste. Daarom hoor ons hulle ook telkemale in die Jesaja-boek kla: die Here sien ons nie raak nie; die Here het ons vergeet; die Here se verbond met ons het in duie gestort (vgl. 40:27; 49:15; 54:10).
Maar dis nie waar nie! Jesaja 40 verkondig in alle tale presies die teendeel. Kernagtig saamgevat lui die boodskap daarvan: ... "Julle God is hier!" Die Here God kom, Hy is die Magtige, Hy regeer ... (v. 9, 10).
God se afwesigheid is skyn, 'n illusie. Of beter gesê: Hy is net op ander maniere by ons teenwoordig as wat ons gedink het. Die fout lê eerder by ons manier van kyk, by ons (geloofs-) oë. Ons kyk, maar ons sien nie. Ons staar ons blind teen die magte, die gode, die Bose, ja, teen ons eie skuld. Ons reken dat God ons alleen in die doodloopstraat van ons omstandighede agtergelaat het. Intussen is Hy nader aan ons as ons hemp of ons rok (Luther).
Ons God is hier. Ons God kom. Dis ook presies die boodskap van die hemelvaart van Jesus. Die Een wat met die wolke weggeneem is, kom weer, maar intussen het Hy ons nie as weeskinders alleen gelaat nie. Hy het eerder deur Sy Gees in ons kom woon (vgl. Joh. 14:18).
Hy het ons wat gedwaal het soos skape, ons wat elkeen sy en haar eie pad geloop het, nie aan die Godverlatenheid van die wildernis oorgelewer nie, maar ons soos 'n Herder kom versorg: die lammers maak Hy bymekaar in Sy arms en Hy dra hulle teen Sy bors, Hy sorg vir die lammerooie (vgl. Jes. 40:11; ook 53:6, 7). So is Hy onder ons werksaam, Hy wat die Magtige is, wat regeer as 'n Herder, 'n goeie Herder, wat Self Lam geword het om Sy lewe af te lê vir Sy kudde (vgl. Joh. 10:11). Daarom kan jy Hom juis miskyk: Hy wat as die Koning aan God se regterhand sit, is steeds deur Sy Gees by ons as die nederige, die Herder, die skynbaar magtelose en skynbaar afwesige.
Die Herder haal nie die voorblad van die koerant nie, net dié wat skynbaar herderloos is; die Herder se koms en werksaamheid word nie met groot fanfare aangekondig nie, eerder dié van bose en vernietigende magte. Maar, kyk mooi, kyk weer: die Een wat na die hemel opgevaar het, is hier, en Hy kom. Sit jou geloofsbril op, kyk met verhelderde geestesoë na die dinge rondom jou en die tyd waarin jy lewe: dis die ruimte, die tyd waarin die Herder werksaam is. Ja, ook híérdie tyd, vandág, is Herderstyd, bymekaarmaaktyd, troostyd (vgl. 40:1, OAV).
Hemelvaart is geen verlies nie, maar louter wins vir ons. Dit bevestig dat God in ons midde is, dat Hy ons nie in die steek gelaat het nie, ons nie prysgegee het aan die noodlot of die demone of die gruwels van die geskiedenis nie. Dit getuig dat die Een wat op die troon sit en die septer swaai ook vandag Sy herderstaf oor ons sal uithou en Sy arms om ons sal vou. Dit verklaar dat die Een wat opgestaan het ook in die toekoms, al die dae tot die voleinding van die wêreld, met die deernis van die Gekruisigde by ons sal wees.
Hemelvaart beteken nie verwydering tussen hemel en aarde, tussen vandag en die ewigheid nie, maar verbinding, oorvleueling, ineenskuiwing.
Hemelvaart beteken dat Jesus, ons goeie Herder, nader aan ons is as toe Hy op die aarde in die omstreke van Palestina rondge-wandel het. Hemelvaart jubel dit uit wat ook dwarsdeur die res van die Skrif opklink: Moenie bang wees nie (vgl. 40:9), julle God is naby, asemrowend naby, om jou, binne-in jou. Hy omsluit jou van alle kante, neem jou in besit (vgl. Ps. 139:5).
Hy is by jou, binne-in jou ballingskap, binne-in jou ervarings van Godverlatenheid en Godswye. Trouens, Hy praat selde harder met 'n mens as wanneer jy reken dat Hy swyg; is selde nader aan jou as wanneer jy reken dat Hy ver is. Dit hang net af hoe jy luister, en kyk.
Spurgeon het geskryf: "lemand sê: Waar is God? lemand antwoord: Waar is God nié?"
Uit: Het God 'n Handvatsel? Johan Cilliers, CUM, 2003.

Indeks     Index