GEEN ERVARING WORD GEMORS NIE
 
“Toe... roep God na hom uit die doringbos: ‘Moses, Moses!’” (Eks. 3:4 NAV).
God mors niks nie: Hy gebruik al ons ervarings - die goeies, die slegtes, die lelikes.
Moses het “onder pleegsorg” grootgeword. Hy het 40 jaar lank in Farao se diens geleer om die taal en maniere van die Egiptenare te verstaan. Dit is hoekom God hom gekies het om Israel uit Egipte te lei.
Watter beter manier is daar om die vyand te verstaan, as om tussen hulle groot te word. Maar Moses het ook nodig gehad om eers ‘n paar persoonlike lesse te leer. Daarom neem God hom vir nog 40 jaar die woestyn in om skape op te pas.
Farao se “seun” is nou ‘n skaapwagter. Niks sal jou nederiger maak as om werk te doen waarvoor jy heeltemal oorgekwalifiseerd is nie - veral as dit jou eie skuld is dat jy in daardie situasie verkeer!
Oor die jare heen het Moses geleer hoe dit voel om een van die seergemaaktes te wees. En uiteindelik, op die ouderdom van 80, is Moses gereed om sy roeping uit te leef.
God openbaar hom aan Moses vanuit ‘n baie ongewone plek - ‘n brandende bos: “Moses, Moses!” Moses ontvang hier sy roeping, naamlik om Israel te gaan bevry. Hy is bang, maak verskonings, en bied redes hoekom hy dink dat God die verkeerde persoon kies. Uiteindelik doen hy tog die werk. Die punt is, Moses se 80-jaarlange opleiding was nie verniet nie!
Sy 40 jaar in die paleis het hom gereed gemaak om Farao te hanteer, en sy volgende 40 jaar het hom gereed gemaak om God se mense uit die woestyn te lei na hul bestemming.
Wat jy ook al op die oomblik ondervind, God sal nie die ervaring mors nie. Nooit nie! Hy sal dit vir jou ten goede en tot Sy eer laat meewerk!
Vers ‘n Dag, 28 Junie 2007.
Uit: “Woord vir Vandag” ‘n publikasie van Radiokansel.

Indeks     Index