KRAKE... | |
  |
![]() ‘n Baie hoë gebou was vir etlike jare in gebruik toe daar op ‘n dag ‘n gevaarlike kraak in die muur op die 42ste verdieping verskyn het. Die besturende direkteur, aan wie die kompleks behoort het, was baie bekommerd en hy het onmiddellik ‘n argitek laat kom om die saak te ondersoek. Toe die argitek opdaag, het die besturende direk-teur die hysbak na die 42ste verdieping geneem om hom daar te ontmoet. Die direkteur kon die argitek nêrens vind nie en was omgekrap toe hy uiteindelik te hore kom dat die argitek onder in die kelderverdieping van die gebou opgemerk is. Hy is dadelik na die kelderverdieping en toe hy die argitek daar vind, vra hy: “Wat op aarde maak jy hier onder? Die kraak wat onmiddellik jou aandag verg, is op die 42ste verdieping !” Die argitek antwoord, “Meneer, daar mag ‘n kraak by die 42ste verdieping wees, maar die fout lê nie daar nie. Die probleem lê hier by die fondament van die gebou.” Toe kom dit uit dat ‘n veiligheidswag wat daar gewerk het, vir homself (by sy huis) ‘n motorhuis wou aanbou. Die wag het nie genoeg geld gehad nie en het elke aand voor hy huis toe is, die hysbak tot onder in die kelder van die gebou geneem en vir hom daar ‘n baksteen of twee uitgekap. Dit het hy dan in sy rugsak saamgeneem huis toe. Dit was die oorsaak dat daar met verloop van tyd ‘n kraak by die 42ste verdieping van die gebou verskyn het. Hierdie kraak was vir almal sigbaar. As ons rondom ons kyk, sien ons baie mense met ernstige krake op die 42ste verdieping van hulle lewens. Dinge loop verkeerd. Spanning raak te veel. Finansies begin druk en die liefde verflou. Seksuele verhoudings vind plaas buite die huwelik. Mense swig voor die druk van versoekings, ens. Dan hardloop ons so dikwels na die 42ste ver-dieping om te probeer red wat daar te redde is. Maar die fout lê nie by die 42ste verdieping nie. Die fout moet onder by die fondament gesoek word. Die fout moet in die harte van dié mense met krake in hul lewens gesoek word. Ek en jy is natuurlik nie uitgesluit nie! Die Bybel leer ons in Matt. 7 en in 1 Kor. 3 dat ons ‘n gebou van God is en dat Jesus Christus die Fondament van daardie gebou is. As ons die Fondament (Jesus, die Rots), uit ons lewe begin wegneem, sal die gebou op die 42ste verdieping begin kraak en mettertyd inmekaartuimel! As daar ‘n “kraak” in jou verhouding met Jesus is, moet dit onmiddellik aandag geniet! Roep vandag die beste Argitek om jou “kraak” te ondersoek en die regte stappe tot herstel te gee. Net Hy kan dit doen. Jesus, die groot Geneesheer van gebroke harte, wag vir jou in die kelderverdieping waar dit stil is. “Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol” (Jesaja 1:18). |