'N DROOM WORD WAAR
 
In 1995 het ek op 'n korttermyn- uitreik na Botswana gegaan met die idee om ook te sien hoe die land lyk. Met die uitreik het die Here my só aangeraak dat ek sedertdien voltyds by hierdie bediening betrokke geraak het, in so 'n mate dat ek nou al vir die afgelope 12 jaar uitreike na Botswana reël! Omdat ons met elke uitreik die "Jesus Film"-toerusting moet leen, en die film in Johannesburg moet gaan haal en weer terugbesorg, het ons gebid dat ons ook eendag ons eie toerusting sal kan aankoop. Met pryse van oor die R25 000 was dit totaal buite my bereik! Ek het gewonder: “Waar sou ons ooit soveel geld bymekaarkry vir toerusting?”
Nou, tien jaar later, het 'n sakeman in Carletonville 'n bedrag van R25 000 aan ons Sendingbediening geskenk om toerusting te koop! Ons dank die Here vir Sy grootheid en dat die dae van wonderwerke nie verby is nie. Ons dank ook hierdie sakeman, dat hy toegelaat het dat die Here hom kon gebruik om die Here te eer en dien met sy finansies!
Opgewonde na die skenking, kontak ek Campus Crusade waar Sjaartjen (skakelpersoon) my meedeel dat daar nie toerusting in Suid-Afrika te koop is nie, maar dat sy in Amerika sal uitvind (Daar was slegs DVD-stelle, en dit werk nie so lekker in die stof en buitelug nie).
Na baie gebede en vele gesprekke, besluit die mense by Campus Crusade in Amerika dat ons wel 'n tweedehandse stel by hulle kan koop! Na die goeie nuus besluit ons om eers die konstruksie vir die skerm aan te koop. Sjaartjen deel ons mee dat die nuwe konstruksie van staal gemaak word en baie swaar is.
Na twee dae laat weet sy dat daar nog net een stel van ligte aluminiumpale beskikbaar is in SA en dat ons dit kan koop vir R3 200!
Hoewel die volledige toerusting baie duur sou wees om aan te koop, beskik die Here dat ons 'n projektor teen 'n afslagprys kry van R4 000. Ek bestel dit dadelik! Sy gee ook vir ons 'n nuwe projektortafel vir R 1 080.00.
Baie opgewonde oor hierdie toerusting ry ek dadelik Pretoria toe om dit te gaan afhaal. Daar aangekom, betaal ek dadelik. Maar die wonderwerke eindig nie! Ek is saam met Henry (die tegnikus) na die werks-winkel. Terwyl ons alles inlaai, besluit Henry om ons te seën met ekstra gloeilampe vir die projektor, smelt-draadjies ("fuses"), 'n film-lastoestel, om die film te las as dit breek, spesiale lap om die film skoon te maak, en 'n handleiding vir die projektor. Ek was so dankbaar!
Boonop besluit Henry om vir ons in plaas van plastiekluidsprekers sterker staalluidsprekers te gee. Daarby skenk hy nog 'n mikrofoon!
Om 'n film in enige taal te koop beloop R7 500. Ek vra toe of ons 'n Tswana en 'n Afrikaanse film vir 'n week kan huur om die toerusting te toets. Net daar seën die Here ons verder. Hulle besluit om beide films vir ons gratis vir 'n onbepaalde tydperk te leen. Al voorwaarde was dat dit gebruik word!
Die Tswana-film was splinternuut! Wat 'n wonderwerk! Terselfdertyd skenk iemand anders 'n DVD-speler sodat ons ook die DVD-stel binnens-huis kan gebruik! (Ons kort nou nog net 'n dataprojektor).
Die wonder eindig nie. Ons word ook geseën met genoeg fondse om 'n sleepwaentjie aan te koop om die toerusting mee te vervoer! In my wildste drome het ek nie gedink dat so iets moontlik sou wees nie! Hier, tien jaar later, gee die Here alles wat ek gevra het en nog meer! Ek eer Hom vir Sy grootheid en genade. Jerry Minny.
(NG Kerk Miederpark)

Indeks     Index