TERUG NA DIE GESIN | |
  |
“Alles het verander,” sê die dertigjarige televisieheld. “Wat my lam maak, is die oudmodiese definisies van die woord ‘gesin’. Gesinne bestaan nie meer uit ‘n pa en ‘n ma in ‘n eerste huwelik nie. Dit bestaan uit enkelouers en hul kinders, saamwoongesinne, hersaamgestelde gesinne, kruiskulturele gesinne met aangenome kinders uit ander wêreldstreke; jy kry nooit-getroude moeders, pa’s wat kinders grootmaak.” In hierdie verandering lê ‘n groot deel van die droefheid van ons bestaan. God se volmaakte plan vir die mens was om in ‘n eenmalige huwelik met iemand van die teenoorgestelde geslag saam te leef. Sy plan was dat die huwelik vir altyd sou wees en dat kinders sou weet: as ek trou, is dit ook vir altyd. Elkeen wat op die allerpynlikste manier ontdek het hoe minderwaardig die mens se variasies op hierdie Goddelike plan is, sal weet dat God alleen jou ná die skending van Sy plan kan help om op te staan, te oorleef en ‘n nuwe lewe te begin. Maar jy wat getroud is, weet jy hoeveel duisternis jy in jou huis toelaat wanneer jy woorde soos ‘skei,’ ‘ons pas nie by mekaar nie...’ en ‘ek is nie meer lief vir jou nie...’ begin gebruik? Ons maak ons lewe uitsigloos wanneer ons nie aan ons huwelike werk nie. Ons open die vensters vir uitsigloosheid en verdriet wanneer ons ophou om vir ons huwelik, ons lewensmaat en ons toekoms as getroudes te bid. Ons definisies van die nuwe gesin is patetiese nood-definisies. God beveel ons om mekaar binne die gesin innig lief te hê. Só maak duisternis plek vir lig. Gebed: Here, seën my lewensmaat. - Oorgeneem |