KRAG VIR VANDAG
 
Jy het seker al ondervind hoe totaal uitgeput ‘n mens kan voel as jy dwarsdeur ‘n somersdag per motor gereis het. Hoe verlang ‘n mens nie na rus en ontspanning ná soveel ure agter ‘n motor se stuurwiel nie!
Maar daar is emosionele vermoeidheid wat nog erger kan wees as die moegheid van die liggaam.
As daar ‘n krisis in die gesin was of geldelike verlies of ‘n ongeluk of persoonlike hartseer, kan dit ‘n mens só uitput dat jou hele wese smag na verligting en kalmte.
In die spanningsvolle eeu waarin ons leef, soek sommige mense na troos en verligting in alkohol en dwelmmiddels. Dan kom hulle egter agter dat die “oplossing” eintlik net hulle probleem vererger en nuwe probleme bring!
Die pas van die lewe het só vinnig geword en daar is soveel onsekerheid en spanning, dat die laste van die mens al hoe swaarder word.
Dit kan lei tot chroniese moegheid en ‘n gevoel van hulpeloosheid terwyl ons tevergeefs na ‘n oplossing soek. Dit is onder sulke omstandighede dat die uitnodiging van Jesus en sy beloftes ons persoonlik aanspreek.
Vir almal wat Hom as hulle Verlosser aanvaar, gee Hy die versekering: “Kom na My toe, dan sal Ek julle rus gee, julle almal wat moeg is en swaarkry onder die laste wat julle dra” (Matt. 11:28).
Die rus wat Jesus belowe, is nie die tydelike gevoel van bevrediging wat kom deur drank, dwelmmiddels of ander aardse genietinge nie. Hy waarborg die verligting en vrede wat Hy gee.
“Hy kan ‘n mens wat moeg is, krag gee en iemand wat swak is, weer sterk maak. Selfs jongmense word moeg en gedaan en kan inmekaar sak van uitputting, maar dié wat hulle verwagting op die Here stel, kry nuwe krag.
Hulle sal opstyg soos ‘n arend wat sy vlerke oopsprei, hulle sal aanhou loop sonder om moeg te word” (Jesaja 40:29-31).
Wil jy nie ook graag jou chroniese moegheid en hopeloosheid verruil vir innerlike vrede, krag en kalmte nie? Jesus nooi jou vandag om na Hom te kom en jou laste aan Sy voete neer te lê sodat Hy jou rus kan gee.
As jy op Hom vertrou en Hom toelaat om jou Here en jou Verlosser te wees, sal Hy jou krag en vrede verleen wat bo alle menslike verstand uitstyg, ten spyte van die lewe se spanning, druk en vermoeienis! (Oorgeneem)

Indeks     Index