WIE ORE HET OM TE HOOR, LAAT HOM HOOR! | |
  |
Dit gebeur dikwels dat die Here deur 'n besondere Woord tot Sy volk wil spreek, en wel deur sy predikers, maar dat die Here se volk nie ontvanklik is vir wat hulle móét hoor nie. Die Woord wat ons hoor, moet 'n werklikheid in ons lewens word en dit is slégs moontlik wanneer ons met 'n ontvanklike hart en 'n oop gemoed luister met die doel om te doen wat die Meester vir ons sê. Want die krag van die Woord lê in die toepassing daarvan. Die Woord kan slegs werksaam in ons wees wanneer dit met geloof ontvang word! Dikwels gebruik die Here Jesus die volgende woorde van die vier Evangelies: “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor” (vgl. Matt. 11:15, 13:9,43; Mark. 4:9; Luk. 8:8, 14:35). Dit word ook gebruik in Openbaring 2:7 - “Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê” (vgl. ook Op. 2:11,17,29, 3:6,13,22). As die Skrif so dikwels hiervan melding maak, is dit belangrike woorde waaraan aandag gegee moet word. Sal ons dan ons ore en ons harte oopstel om met geloof te ontvang wat die Here vandag vir ons wil sê? Wanneer ons na God gaan, moet dit in geloof geskied dat Hy ons sal verhoor. Heb 11:6 verklaar: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek.” Wat gebeur wanneer ons met geloof bid? Die onmoontlike word moontlik. Die onsigbare word sigbaar. 'n Wonderwerk, bo ons vermoë, word moontlik. Wanneer ons met geloof bid en nie twyfel nie, kom dít wat in die onsigbare dimensie geleë is, na die sigbare dimensie. Dikwels gebeur 'n wonderwerk onmiddellik, sodat wanneer ons ons oë oopmaak, dít waarvoor ons gevra het, 'n sigbare werklikheid geword het. God wil hê Sy kinders moet só bid met verwagting. Ons geloof moet Hom as't ware uitdaag om 'n wonderwerk te doen! Aangaande Israel het Jesus gesê: “Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie. En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor” (Matt. 13:13-16). In die eindtyd-Kerk, die tyd waarin ons leef, het hierdie woorde ook waar geword: Baie van God se kinders wat voorheen gehoor het, se harte het stomp geword! Hulle ingesteldheid ten opsigte van hul geestelike lewe, het só afgestomp geraak dat hulle nie meer die Stem van die Here in hulle lewens hoor nie. Dit bring mee dat baie gelowiges nie weet en probeer uitvind wat die Here se wil vir hulle lewens is nie. Sodoende is hulle aangewese op hulle eie wil en denke. Die gevolg is dat hulle in allerlei probleme beland waarvoor daar geen uitkoms is nie. Baie begeef hulle in huwelike waar hulle self besluit het oor hul huweliksmaat. Nog ander besluit self watter beroep hulle gaan volg, waar hulle gaan woon, na watter land hulle uitwyk, watter huis hulle gaan koop, en menige ander sake. Wanneer probleme kom a.g.v. verkeerde keuses wat hulle sonder die Here gemaak het, is die eerste ding wat hulle vra: “Hoekom doen die Here dit aan my?” Maar die Woord is duidelik vir diesulkes: “Jou eie boosheid sal jou tugtig, en jou afkerighede sal jou straf; weet dan en sien dat dit verkeerd en bitter is dat jy die HERE jou God verlaat het, en dat My vrees nie by jou is nie, spreek die Here, die HERE van die leërskare” (Jer. 2:19). Het ook jóú hart stomp geword sodat jy nie meer God se Stem kan hoor nie? Blameer jy God vir jou eie wandade of verkeerde sondige keuses en besluite? (Vgl. Hand. 28:27). Keer terug na God! Luister na die Stem van die Herder wat Sy skape roep by hulle naam en hulle uitlei na veiligheid en na groen weiding (Joh. 10:2-4). Kyk, Hy gaan Self voor jou uit en Hy wil jou lei. Sal jy Hom vandag volg? Verder kom die Woord van die Here ook tot die lou Kerk aan die einde van dae: “…want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim. 4:3,4). Dit is 'n teken van die eindtyd. Jesus Self het gevra: “…maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Luk. 18:8). Die woorde van Paulus is ook híér van toepassing: “Weet julle nie dat 'n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle 'n nuwe deeg kan wees - soos julle inderdaad ongesuurd is…” (1Kor. 5:6,7). Kry klaar met valse leerstellings, kritiek en veroordeling van die waarheid van God se Woord. Kom met geloof en verwagting na die Here toe. Kom met geloof, al is dit hóé klein. Jesus het gesê: “As julle geloof gehad het soos 'n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: Word ontwortel en in die see geplant - en hy sou julle gehoorsaam wees” (Luk. 17:6). En ook: “…voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos 'n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie” (Matt. 17:20). Stel jouself onder die beheer van die Heilige Gees. Paulus beves-tig die onderworpenheid aan die Heilige Gees soos volg: “Moenie dronk word van wyn nie - daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Ef. 5:18). Letterlik sou dit soos volg vertaal kon word: “Kom onder die voortdurende beheer van die Gees” of: “Laat die Gees toe om julle voortdurend te beheer.” Hierdie onderworpenheid aan die Heilige Gees sal gelowiges baie trane en droefheid spaar, want dan raak ons sensitief vir die Stem van die Here en word ons gewillig om deur die Gees gelei te word. In Ps. 32:8 sê die Here: “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; My oog sal op jou wees.” Laat ons in hierdie moeilike dae vol onrus terugkeer na God en toelaat dat die Goeie Herder ons voortdurend lei! |