JESUS LEEF REGTIG! | |
  |
![]() Jaco van den Bergh (083 272 6146) My seuns het een jaar na die ongeluk 'n kruis gebou so hoog soos die huis. Die kruis word verlig en een aand het ek hierdie foto geneem. (Jaco) Ek het vanoggend vir die soveelste keer die koerant, die Goeie Nuus, gelees en toe het die Heilige Gees vir my gesê: “Dit is tyd om jou getuienis met hierdie koerant se lesers te deel.” Ek is van Delareyville afkomstig. My naam is Jaco van den Bergh. Dit is nou vier jaar na my motorfiets-ongeluk op 28 Februarie 2006. Ek het op daardie dag van my plaas, 24 km buite Delareyville, dorp toe gery met my Yamaha FJR-motorfiets. 'n Tarentaal het opgevlieg - reg in my gesig! Tot vandag toe kan ek niks van die ongeluk onthou nie. Die tarentaal het my kop aan die linkerkant getref. Die slag was só hard en geweldig dat die valhelm aan die regterkant oopgebars het. Die linkeroogkas het verskeie breuke gehad. Die oogbank, wangbeen en die linkeroog se pupil het gebars. Altwee ooglede was oopgesny en af as gevolg van die bril wat ek opgehad het. Na verskeie operasies het ek vandag nog 'n slap ogie en 'n krom neus. In my nek is verskeie werwels gebreek en gekraak. Daar is reeds baie herstelwerk gedoen en daar moet nog aan die nek gewerk word. Daar is ook nou verbrokkeling besig om plaas te vind. Toe ek en die motorfiets van mekaar geskei is, het 'n ysterpaal langs die pad my linker-onderbeen en enkel vergruis. Ons het hierna baie lank gesukkel met septisemie in die been asook in die hele liggaam. Die dokter wou my been amputeer, want op daardie stadium was herstel byna onmoontlik. Ek was altesaam 4 maande lank in verskeie hospitale, het 3 jaar in 'n rolstoel gery en moes ook leer om met krukke oor die weg te kom. Op hierdie stadium ry ek egter weer met my motorfiets, hoewel met 'n nekstut aan. En ek geniet dit so baie om weer op my motorfiets te kan ry! Graag wil ek egter vertel van wat geestelik met my gebeur het… Nooit het ek tyd gemaak om die Woord van God te lees nie. Per geleentheid het ek 'n kerk besoek en selde indien ooit het ek aan Jesus gedink. Ek het wel geweet dat Jesus bestaan, maar daar was geen sprake van 'n verhouding met Hom nie. In die laaste oomblikke van my lewe was ek alleen en baie eensaam. Dit was die swartste, donkerste plek ooit! Dit was koud en Satan het my aangeval. Dit het aangehou en aangehou. Daar was geen einde aan nie! Ek het mense gesien met horings op hulle koppe. Hulle kleredrag was geheel en al swart en daar was aanhoudende, ritmiese musiek. Hierdie beelde en belewenisse het soos strome deur my gevloei en gevloei - sonder ophou! Uit wanhoop het ek Jesus aangeroep: Here, help my!” Ek het myself op die bed sien lê. Daar was 'n jong seun wat die hele tyd rondom my bed was. Ek was ook die hele tyd bewus van 'n groot persoon wat teenwoordig was. Die aanslae teen my geestelike lewe het nie opgehou nie. Dit was asof daar chaos geheers het. Ek moes ook aanskou hoe my mense onder mekaar baklei. Dit was verskriklik. My vrou het gebid dat die Bloed van Jesus hierdie stukkende liggaam van my sal genees. En Jesus hét my weer 'n kans gegee om te lewe. My gesondheid het verbeter en die dokters het met herstelwerk aan my liggaam begin. Die aanslae teen my en my gesin was steeds baie sterk, maar daarvan sal ek meer vertel in die boek wat ek wil skryf oor hierdie gebeurtenis wanneer God my die genade daartoe gee. Wat ek graag wil beklemtoon, is dat JESUS REGTIG LEEF, dat Hy my weer 'n nuwe lewe gegee het en dat ek Hom sal loof en prys vir die res van my lewe! LESER, pak alles wat pla, alles wat skeef en krom is, in 'n tas en gee dit vir JESUS. HY SAL JOU LEWE VERANDER! |