LAAT MY LEWE DAT EK U KAN LOOF! | |
  |
'n Biddende Ma (082 7726 559) My verhaal kan dalk ook ander gelowige ouers troos en versterk wat in dieselfde bootjie as ek is. Sewentien jaar gelede het my gelowige, oudste seun tragies aan sy eie hand gesterf. Die oorsaak was endogene depres-sie. Ongeveer tien jaar daarna het my jongste seun sy rug op die Here gedraai. By navraag hoe hy tot so ’n radikale besluit gekom het, vertel hy dat hy tot God geroep het om aan hom te verskyn (ek glo dit was in ’n krisisoomblik). Toe dit nie gebeur nie, was sy gevolgtrekking: daar is geen God nie. Ek was verbysterd en stom-geslaan. Veel later het ek besef: vir God is een dag soos 'n duisend jaar en 'n duisend jaar soos een dag (2 Pet. 3:8). God sál nog reageer op sy versoek, maar op Sy tyd en Sy manier. Ons kan Hóm nie hiet en gebied nie. Om saam met die gedagte te leef dat jou kind nie in God glo nie, is beslis nie 'n kalm see waarop jy vaar nie. Min het ek geweet die Here het my 'n tweede keer op 'n lydensweg geplaas waar ek geestelik baie meer sou groei as wat ek ooit kon droom! Ek sou mettertyd besef: jy kan jou kind van die Here leer, maar “niemand kan sê 'Jesus is die Here' nie behalwe deur die Gees” (1 Kor. 12:3). “Dit is die Gees wat iemand lewend maak, die mens self kan dit nie doen nie” (Joh. 6:63). Die Here Self is aan die woord in Romeine 10:20: “Ek het My laat vind deur mense wat My nie gesoek het nie. Ek het verskyn aan mense wat nie na My gevra het nie.” My gevolgtrekking is: uit genade alleen word ons gered. “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie, dit is 'n gawe van God” (Ef. 2:8). Tweedens wil ek as mens graag God se werkswyse uitpluis. Dit is helaas vir ons ontoeganklike terrein. “Wie ken die bedoelings van die Here? Wie gee Hom raad?” (Rom. 11:34). “Wie kan die Gees van die Here peil, wie kan Sy raadgewer wees?” (Jes. 40:13). “Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie peil nie” (Pred. 3:11). “Die betekenis van wat gebeur, lê buite bereik, baie diep; wie kan dit vind?” (Pred. 7:24). Die boek Job vanaf hoofstukke 38 tot 41 is wonderlik vertroostend. Aan die hand van die natuur-wonders toon God Sy almag aan Job. As ons nie die werkinge van die natuur kan verstaan nie, hoe kan ons Sy almag verstaan? Ons soek dikwels na antwoorde, maar die geloof vra dat ons sal lewe soos ons móét lewe ondanks die vrae waarop ons nog nie ant-woorde kry nie. Onthou, God ken jou situasie en Hy het jou lief. Hou aan om op Hom te vertrou, al verstaan jy nie waarom dit op die oomblik met jou gaan soos dit gaan nie (Bybel in Praktyk). Tog lig die Here vir ons die gordyn so plek-plek. Hy sê as't ware: Ek het 'n doel en betekenis met alles wat gebeur. Ons lees in Johannes 9:2 waar die dissipels vir Jesus vra waarom die man blind is. Was dit as gevolg van sy eie of sy ouers se sonde? “Nee,” sê Jesus, “dit is nie deur enigeen se sonde nie maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien kan word.” Dalk doen God dit ook met my kind. God laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet (Rom. 8:28). Sy almag is veral daarin geleë dat Hy sonde kan omkeer om Sy volmaakte planne te laat realiseer. Dink aan Josef en sy broers. Toe sy broers skuldig voel oor hul gruweldade teenoor hom, was Josef se woorde: Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen. Hy het gesorg dat 'n groot volk nou in die lewe gebly het (Gen. 50:20). God kan dalk ook my kind se ongeloof gebruik om Sy planne ten uitvoer te bring. Wat verwag God van my as ouer? Wat verwag God van my? Daagliks bid ek hartgrondig vir my kind se redding. Al gebeur dit nie in my leeftyd nie, is ek in goeie geselskap, want in Hebreërs 11 lees ons van geloofshelde soos Abraham en andere wat gesterf het voor hulle gekry het wat God beloof het. Ek glo en visualiseer dat my seun elke dag een tree nader aan die kruis is. Ek bid: Here, ek tree in die bresse vir my kind. Ek bou 'n muur van gebed om hom sodat U hom nie vernietig nie (Eseg. 22:30). Die sluier voor sy gesig, neem dit asb. weg sodat Hy U kan sien (2 Kor. 3:18). Jesus se gebed aan die kruis word ook my bede: Vader, vergeef hom, want hy weet nie wat hy doen nie (Luk. 23:34). Saam met Stefanus smeek ek: Here, moet hom tog nie hierdie sonde toereken nie! As ek terugkyk, besef ek dat ek deur die onbeskryflike leed wat my twee seuns my aangedoen het, 'n hemelhoë sprong in my geestelike lewe beleef. Ja, die Here gebruik selfs die wroeging oor 'n ateïstiese kind om ons nader aan Hom te trek. Waarlik, ek stem saam met Psalm 119:71, 116 & 175: “Dit is vir my goed (nie lekker nie!) dat ek swaar gekry het, want daardeur het ek U voorskrifte geleer… Laat my vasstaan soos U beloof het, dat ek kan lewe, dat ek nie teleurgesteld sal wees in my verwagting nie… LAAT MY LEWE DAT EK U KAN LOOF!” |