DIE KRAG VAN GEBED!
  Die artikel “Jy kan! Ek kan!” (“Goeie Nuus”, Mei 2011) het betrekking. Ek moes net hierop antwoord, aangesien dit so in die kol geskryf is.
Ek glo dat daar ‘n geweldige deurbraak sal wees die dag wanneer ons die moed en krag van die Here kan ontvang om ons trots in ons sak te steek en ‘n helpende hand na die armes en minderbevoorregtes in ons land uit te steek. Wanneer ons byvoorbeeld ‘n wit familie sal sien wat ‘n swart familie onder hul vlerk sal neem en hulle help om ook 'n bestaan te kan maak en menswaardig te kan lewe.
Ek glo die dag wanneer ons witmense in die lokasies sal sien wat sal help bou en van hulle geld sal gee wat God aan hulle toevertrou het, en dit deel met die behoeftiges, sal ons God se Hand en Teenwoordigheid in ons land sien en voel! (Hierdie hulpver-lening geld natuurlik vir armes en minderbevoorregtes van watter kleur ook al).
Ons praat baie, maar doen so min. Waarom wil ons net heeldag oordeel? Het ons die vermoë verloor om na die stem binne-in ons te luister? Of het ons nog nooit geleer om na die Heilige Gees te luister nie? Is ons siel so vet-gevoer deur die dinge van hierdie lewe dat dit besig is om ons lewe en ons verhouding met ons Hemelse Vader te verwoes? Ons openbaar nie meer die liefde van 1 Korintiërs 13 nie, want ons het te selfsugtig geword. Ons wil alles net vir onsself hê. Niks en niemand tel behalwe ek nie. Ons vergeet dat die liefde nie net uit woorde bestaan nie, maar ook uit dade!
Ons moet lewe soos God se ambassadeurs en Sy liefde uitleef teenoor ander mense, ongeag taal, kleur of ras. Onthou: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel en jou hele verstand, en die tweede wat hiermee saamgaan is dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself.”
My vaste voorneme is dat ek en my huis die Here sal dien, ongeag wat mense van my dink of sê. Ons is tot alles in staat deur Jesus Christus ons Here wat ons die krag sal gee!

Indeks     Index