SOEPEL SOOS 'N "CHAMOIS" | |
  |
‘n Chamois of seemsleer (“shammy”) word deur die Handboek vir die Afrikaanse Taal omskryf: “Sagte leer van skaap- of bokvel op ‘n besondere wyse gelooi.” Die leer word oor en oor gebrei om poreus, sag en bruikbaar te wees. So sag dat dit besondere bruikbare kwaliteite verkry wat dit nooit gehad het nie. Omdat dit so ‘n heerlike, sagte, bruikbare artikel geword het, is dit baie gewild. Die “shammy” se bruikbaarheid lê in sy sagtheid en sy soepelheid. Dit is ook baie absorberend. Wanneer God met óns werk, is Sy uiteindelike doel om ons sag en bruikbaar te maak, soos ‘n “shammy”. Wanneer ons ons lewens aan Hom oorgee, sal Hy ons oor en oor brei om alle hardheid van die vlees uit ons te verwyder. Die “ek” - my eie wil en begeertes - moet oor en oor gekruisig word sodat ek sag en bruikbaar kan wees in God se Hand. Sy doel met ons is om nuttig en bruikbaar in Sy Koninkryk te wees. Ons moet nederig, sag en minsaam wees. Jesus het gesê: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want My juk is sag en my las is lig.” (Matt. 11:29-30). Dan sê Jesus ook: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Matt. 5:5). Nadat Moses 40 jaar in die woestyn deurgebring het, het die HERE hom geroep om Sy volk uit Egipteland uit te lei. Ten tye van opstand teen hom deur sy eie broer en suster, sê die Bybel: “Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem” (Numeri 12:3). Sonder sagtheid of sagmoedigheid is dit moeilik om werklik ‘n bruikbare instrument in God se Hand te wees. Nog ‘n nuttige eienskap van die “shammy” is dat dit baie absorberend is. Dit maak van die “shammy” ‘n goeie gebruiks-artikel. Dit sluit aan by sy sagtheid. Die gelowige moet baie kan absorbeer in God se diens. Jesus het gesê: “Maar Ek sê vir julle dat julle ‘n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe” (Matt. 5:39). Dan sê die Woord ook: “…en ‘n dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra” (2 Tim. 2:24). Is dit nie dalk wat met ons Afrikanervolk gebeur het nie? Ons het in ‘n sekere sin ons soepelheid en ons sagtheid verloor! In ‘n boek van Jochem van Bruggen, Die Sprinkaan-beampte van Sluis, handel dit oor die Afrikaner tydens die depressiejare. Dit het geweldig moeilik met hulle gegaan. Later het daar ‘n era van welvaart aangebreek. Het die Afrikaner nie toe dalk sy soepelheid verloor nie? Het hy nie dalk in die proses van verryking en oorvloed onbruikbaar vir God geraak nie? Die “shammy” het te lank in die son gelê. Dit moes in die houer klam gebly het. Klamheid verteenwoordig die teenwoordigheid en salwing van die Heilige Gees in die gelowige se lewe. In God se Hand bly ons “klam” van die salwing. Dan is ons onderworpe, sag, soepel, en bruikbaar vir Hom. Miskien is daar tóg hoop! Hoop om deur die moeilike tye weer ons God vas te gryp en ons sagtheid en soepelheid terug te kry, sodat ons bruikbaar vir Hom kan wees. Hoe lyk jou en my lewe vandag? Dalk het dit tyd geword dat ons almal saam hande moet vat en opnuut by God moet uitkom, sodat Hy ons kan heilig vir Sy besondere doel. Dan sal daar hoop wees vir die Kerk in Suid-Afrika! © Dr. JJ Venter |