LAAT ONS GEREED WEES! | |
  |
Stilword Duisende dwalendes dool, maalkolk deur die drukgangetjies van die lewe; jaag na prestasie, hyg na oorlewing, smag na aanvaarding... 'n Sosiale masjien wat gesinkroniseerd voortstu, beur na bereiking van vasgestelde, fynbeplande dringende doelstellings. Verras buk ek laag langs skuifelende skoene, bewonder die lugblou blommetjie langs die treinspoor: 'n stukkie menslikheid 'n stukkie Goddelikheid 'n stukkie stilword, 'n bewonderingsbewussyn. My oog weerkaats die wolklose hemel, die tydlose ewigheid! © C Venter In ons hipermededingende samelewing word uitermate klem gelê op "wen" of "eerste wees". Daar word soveel prominensie aan "wen" en "sukses" gegee dat daar reeds van jongs af 'n "prestasie-angs" by kinders ontwikkel. Almal jaag daarna om die hoogste sport te bereik, hetsy op akademiese of beroepsvlak, sport, sang, of waarin die individu ook al mag uitmunt. Almal wat nie "wen" en "pryse" daarvoor kry nie, word somtyds as "tweede-rangs" behandel en hulle beskou hulself as minderwaardig en verloor dikwels belang in die lewe. Wat die ware wedloop (die gees-telike wedloop) van die lewe aan-betref, is dit só verblydend dat elke kind van God 'n wenner deur die verdienste van Jesus Christus kan wees! Niemand kom tweede of laaste nie. Niemand is minder-waardig of onbenullig nie! Aan die einde van híérdie wedloop wag daar 'n onbeskryflike prys - 'n ewige lewe van heerlikheid en skoonheid saam met Jesus Christus! Paulus begryp so goed wat hier-die allerbelangrikste wedloop inhou en skryf: "Weet julle nie dat atlete wat aan 'n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. Almal wat aan 'n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om 'n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons 'n onverganklike" (1 Korintiërs 9:24-25 NV). Die skrywer aan die Hebreërs benadruk ook die gedagte van volharding: "Daarom dan, terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rond-om ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voor-gehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het" (Hebreërs 12:1-2 OV). Ons hoogste prestasie ooit sal dus wees om met volharding die geestelike wedloop te voleindig as 'n wenner! Paulus het al die eindstreep waaroor ons hardloop in gedagte wanneer hy skryf: "Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'ngeroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Tess. 4:15-18 OV). In die sewentigerjare het ek by 'n hoërskool in Kempton Park skoolgehou. Een jaar het daar 'n taai en vermoeiende Padwedloop plaasgevind. Die seuns het vroeg-oggend vanaf 'n nabygeleë plaas weggespring en sou so teen twaalfuur by die skool aankom. 'n Baie gewilde en begaafde seun het die hele tyd baie ver voor gehardloop. Na 'n paar uur se geswoeg en sweet het hy net met die allerlaaste skof só moeg begin word dat die ander seuns hom begin inhaal het. Hy het letterlik alles in die stryd gewerp om vóór te bly, maar so ongeveer dertig treë van die wenstreep het twee seuns hom verbygesteek. Hulle het egter skielik teruggerem, by hom ingehaak en hom later oor die wenstreep gehelp! Die bulde-rende applous was oorverdowend en daar was baie betraan-de oë. Natuurlik is aldrie as wenners aangewys en daar is baie lank daarna nog oor die onselfsugtige offervaardigheid van die twee barmhartige seuns gepraat. Paulus sê dat ons as kinders van die Here mekaar in hierdie vermoeiende geestelike wedloop moet bemoedig en help: "En op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie." (Romeine 15:1 OV). Jesus kom eersdaags om Sy Bruid te kom haal. Kom ons help en bemoedig mekaar sodat ons almal enduit met die belangrikste wedloop van ons lewens sal kan volhou! Laat ons gereed wees en by mekaar "inhaak" sodat ons Hom almal saam tegemoet kan gaan in die lug! Bostaande is ‘n uittreksel uit die boek “5 Voor Middernag?” deur dr. Japie en Huegene Venter. Hierdie boek bied ‘n voëlvlugoorsig oor die menslike geskiedenis, van die skepping tot die voleinding van die huidige bestel. Vir navrae, asook posbestellings, skakel ons by 018 293 1996 of 074 254 2319. |