TE LAAT!
  Die skip het op 'n onsigbare rots geloop en was vinnig besig om te sink.
Gelukkig was daar genoeg tyd om die reddingsbote neer te laat en die passasiers en bemanning te red. Getrou aan hulle plig het die kaptein en die eerste offisier op die skip gebly totdat al die ander in die bote was. Hulle was net op die punt om ook die sinkende vaartuig te verlaat toe die offisier sê: “Ek het my beursie onder laat lê. Ek gaan dit net gou haal.”
“Man,” sê die kaptein, “daar is geen tyd nie! Spring dadelik!”
“Net 'n oomblik, kaptein, ek kan dit maklik kry,” en die offisier hardloop na sy kajuit. Die kaptein het nouliks tyd gehad om die reddingsboot te bereik toe die skip onder die water verdwyn.
'n Ruk later het hulle die offisier se lyk gekry. Vasgeklem in sy hand was sy beursie, en binne in die beursie die geld waarvoor hy sy lewe verloor het - 'n honderd-randnoot!
'n Mens het geen tyd om te verloor nie! Die wêreld gaan spoedig wegsink onder die reg-verdige oordeel van God. Sy genade het vir almal voorsiening gemaak om gered te word.
Christus is die Reddingsboot. Hy is hier by jou. Jy kan jou lewenswrak verlaat en deur geloof in Christus na veiligheid spring. Moenie hierdie kans verspeel nie!
“Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huis” (Handelinge 16:31).
(Oorgeneem)

Indeks     Index