DIE EEN WAT SELFS IN DIE STORMS BY JOU IS | |
  |
My gevoel van verligting het toegeneem terwyl ons deur die wolke opstyg. Hoe langer die vliegtuig sonder turbulensie steeds hoër klim, hoe groter was my verligting. Die son het helder deur my venster geskyn, die lug was blou en in wolklose glans. Dit was so helder dat ek nie met gemak na bo of buite kon kyk nie. Omdat ek graag by die venster uitkyk wanneer ek vlieg, het ek afgekyk, terug in die rigting waarvandaan ons nou net gekom het. Daar ver onder was 'n verbasende gesig wat my heeltemal onverhoeds betrap het. Dit was 'n donderstorm, maar een soos wat ek nog nooit vantevore gesien het nie - selfs nie eens in 'n film nie - as gevolg van die perspektief wat ek vanuit die vliegtuig gehad het. Die vliegtuig het waarskynlik op meer as seweduisend meter deur 'n helder, wolklose hemel gevlieg. Die wolke van die donderstorm was vér onderkant die vliegtuig. Ek het dit van so hoog en van so ver af gesien dat dit vir my gelyk het asof die storm deel van die aarde is. Ek kon vanuit die vliegtuig die wit aan die bokant van die wolke sien wat hemelwaarts wys en die donkergrys aan die onderkant wat gelyk het asof dit die wolke grondwaarts rem. Dit het gelyk asof weerlig oor die hele wolkbank ontplof en net van tyd tot tyd losbreek om na die aarde te reik. Van waar ek gesit het, was dit 'n stil en asemrowende toneel. Slegs mense op aarde kon die weergalmende donderslae hoor wat die weerlig vergesel het. Ek het aan 'n Bybelvers gedink wat lui: “In Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom 'n plek in die hemel gegee…” Nou kon ek my voorstel hoe dit lyk! Die Here het my later die volgende lesse getoon uit dié gesig wat ek bevoorreg was om te sien. Die storms verteenwoordig al ons probleme, ons beproewinge, ons smart, gevaar en lyding wat gedurig in ons lewens kom en gaan. God is deel van ons lewens, maar Hy leef vér bokant enige storm wat die wêreld kan voortbring. Jakobus noem Hom: “Die Vader wat die hemelligte geskape het maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie.” God is en was en sal altyd dieselfde wees. Sy lig verdof nooit en kan deur geen stormwolke verduister word nie. Sy getroue liefde, Sy goeie bedoelings teenoor Sy kinders is onberoulik - Hy wil vir hulle net die beste gee. Ja, selfs wanneer die vyandige storms oor ons lewens woed, staan die Here gereed en wag dat ons tot Hom sal nader. God ken die antwoord, maar Hy wag op u en my eerste tree na Hom. God kyk ook seker na ons storms soos wat ek dit in 'n beperkte mate kon vergelyk, maar die mense wat op die aarde is, kyk van onder die donker stormmassa na God. Die stryd waarin ons onsself egter bevind, verberg soms God se Teenwoordigheid. Vanuit ons posisie, te midde die storms, sien ons soms net die stryd, terwyl God vanuit Sy posisie, Sy kind en die storm kan sien. Terwyl ons na ons stryd en beproewinge kyk, sien ons maar slegs gedeeltelik, soos wanneer ons 'n legkaart bou, maar God ken die volle prent. Dit is waarom die Bybel ons aanmoedig: “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo - waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is en nie wat op aarde is nie. Want julle het gesterwe (dood vir die wêreld) en julle lewe is saam met Christus verborge in God” (Kolossense 3:1-3). Kom ons behou die regte perspektief - ons hoef nie toe te laat dat die donker wolke ons bevrees maak nie. “Maar… soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid en al hierdie ander dinge sal vir jou bygevoeg word” (Matt. 6:33). op 'n vaste Rots Hoog bo die golwe van verdriet, Hoog bo gevaar - die see wat woed en bruis en soos 'n monster wil verswelg… insuig… wegmaal in die kolke van verdriet… Ag, Here, plant my voete op die ewige Rots en wees my Beskutting. Skenk my weer nuwe blydskap! “Laat blydskap jou beskutting wees,” is U bevel. Dus, plant my voete op die ewige Rots, raak my aan en sê: “Wees wel.” Amen. - Oorgeneem |