LééF WAARHEID EN LIEFDE!
  Daar word vandag dikwels oor sake soos waarheid en liefde gepraat. Oor die realisering van dié twee begrippe in ons moderne samelewing bestaan egter vrae omdat dit nie altyd sigbaar is nie.
Almal, van politici tot verkoopsmanne, verswyg of ignoreer dikwels gerieflikheidshalwe dinge wat hulle nie pas nie en gebruik kartetse woorde om eie posisies of produkte te bevor-der. Só het geloofwaardigheid en integriteit rare eienskappe geword. Daarom is dit nie vreemd dat ons deesdae die eed moet aflê om te bevestig dat ons die waarheid praat nie.
En wat van liefde? Ons wêreld is vol terme wat deel uitmaak van die liefdestaal. Ons sien en hoor hulle in gewilde liedjies, op groetekaartjies, uit die monde van media-konsultante en in romans. Ja, ons word van alle kante oorval deur woorde wat ons laat dink aan idilliese verhoudings en wonderlike emosies. Ware en opregte liefde is egter maar skaars en daarom is dinge soos om onselfsugtig te gee, om te deel en selfs te sterf as dit nodig is, ook skaars. Dit is egter die komponente van ware liefde. Ons hunker almal daarna om liefde te gee en te ontvang, maar ons sien maar weinig voorbeelde van ware onbaatsugtige liefde, dit wil sê 'n onselfsugtige liefde wat die belange van ander bevorder.
Christus het gekom om inhoud te gee aan begrippe en waardes, die teenoorgestelde van self-gesentreerdheid en valsheid. Hy is immers die beliggaming van waarheid en liefde. Daarom moet almal wat Hom aanvaar het, ook hierdie ideale nastreef. Hulle moet die waarheid lééf en in opregte liefde teenoor mekaar optree. Dit is die Christen wat weer die regte perspektief op liefde moet bring deur sy optrede.
Die tweede Johannes-brief bring eerstehandse kennis van liefde en waarheid. Johannes en die Johannes-gemeentes was só diep onder die indruk van hierdie dinge, dat die temas van liefde en waarheid wat só noodsaaklik is vir die Christen en die Christelike lewe, deurlopend in al die Johannese boeke voorkom (die Johannes-Evangelie, die briewe, asook Openbaring). 2 Johannes, die brief wat aan 'n sustergemeente geskryf is, is geen uitsondering op die reël nie. Daarin lees ons dat die lesers die waarheid moet volg en aan God gehoorsaam moet wees (vgl. 2 Joh. 4), op hulle hoede moet wees vir vals leraars (2 Joh. 7) en God en mekaar moet liefhê (2 Joh. 6).
'n Mens lees hierdie briefie binne 'n paar minute deur, maar die boodskap wat daaruit spreek, bly jou die res van jou lewe by.
Kom ons lees hierdie verse met verwagting soos die eerste lesers en besluit dan opnuut om as 'n mens van waarheid, liefde en gehoorsaamheid vír God te leef.
- Bybel in Praktyk, CUM, 1993, Red. W Vosloo en F J van Rensburg

Indeks     Index