OMGEE: 'N DOEN-WOORD!
  “Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom? Kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid” (1 Johannes 3:17).

Omgee het 'n tweelingbroer wat onafskeidbaar met hom saamloop. Sy naam is Doen. Omgee vloei uit 'n hart van liefde en liefde kan nie anders as om homself in dade uit te druk nie. Neem ons verder Jakobus se skokkende uitlating, dat geloof sonder werke dood is, in ag, beteken dit eintlik niks as ons sê ons gee om vir mense en ons DOEN nie iets vir hulle nie!

Wanneer Jesus se liefde vir mense dus uitdrukking vind in emosie, is dit meer as emosie met sentiment. Dit is 'n praktiese liefde, 'n praktiese omgee!

Jesus voel jammer vir mense - 'n emosie eie aan die mens. Sy jammerte is egter 'n uiterlike manifestasie van Sy Goddelike omgee vir mense. Daarom kan Hy nie anders as om iets aan hulle omstandighede te doen nie: Hy voed 'n skare van 5 000 wat vir dae al sonder kos was (Matteus 15); Hy hoor hoe twee blindes desperaat na Hom om hulp roep en Hy maak hulle oë gesond (Matteus 20); Hy droog 'n weduwee se trane af toe Hy haar enigste seun op pad na sy graf uit die dood opwek. (Lukas 7).

Jesus gee egter ook met die verstand of rede om vir mense. In Sy laaste doodsnikke aan die kruis, bid Hy vir Sy laksmanne: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Lukas 23:34). Sy omgee wil nie dat hulle sonder vergifnis hul lewens verder leef nie. Sy omgee strek verby Sy dood - Hy vestig 'n versorgings-verhouding tussen Sy moeder en geliefde vriend Johannes (Johannes 19:26).

Jy mag maar desperaat na Hom roep vir lig in jou nagdonker omstandighede en jy mag maar met naakte vrymoedigheid vra vir jou stukkie brood vir vandag. Hy gee om en Hy SAL oorgaan tot aksie omdat Sy liefde vir jou die sneller is.

Die vraag wat jy vir jouself moet afvra en beantwoord, is: Gee ek genoeg om vir my medemens om Jesus vir hulle te wees en tot aksie oor te gaan? Of kies ek om oppervlakkige, emosiegedrewe kontak met mense te hê? Hoor dan maar weer Johannes se woorde: “Kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.”

Gebed: Vader, my omgee vir mense is baie dikwels net 'n emosie van jammerte. Gee my konstante bewustheid van U teenwoordigheid en betrokken-heid in my lewe en maak my vleeslike en geestelik oë oop sodat mense se nood vir my sal word asof dit my eie is. - Carina Francke, Vers-’n-dag, 19/06/14.

Indeks     Index