ONS GAAN ALMAL HEMEL TOE OF HOE?
  Gaan ons almal hemel toe? Lees onderstaande Skrifgedeeltes en besluit dan self. My Bybel waarsku my dat ek moet waak en bid! Ook waarsku die Skrif my om heilig te lewe!

HEILIGMAKING OF HEILIGHEID
JESUS IS GEKRUISIG sodat ons gered kan word. Ons moet wedergebore word en dan soos heilige, bloedgewaste kinders van God lewe!
Dit baat ons niks as ons sê ons is gered en nou sit ons en wag om hemel toe te gaan nie. Nee, ons het by Jesus 'n opdrag gekry: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Matt. 28:19).
Kan ons ander mense sonder 'n heilige lewenswandel gaan leer hoe om God te dien? Hulle kyk na ons lewens! (We must walk the talk).
Kom ons kyk na die begrip “heiligheid”. Om heilig te wees, beteken “Mense wat aan God behoort of mense wat vir God afgesonder is”.
In 1 Petrus 2:9 sê Petrus vir ons: “Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.”
'n Uitverkore volk is mense wat deur God gekies is om Sy kinders te wees. Hy beveel óns om heilig te wees, want Hý is heilig! Wanneer ons geheiligde kinders van God is, KAN ons oor die sonde heers! Dan lyk ons anders en tree ons anders op as ongelowiges want die Heilige Gees woon binne-in ons en werk deur ons!
Die Woord leer ons in 1 Petrus 1:15-16 die volgende: “Maar soos Hy wat julle geroep het heilig is, moet julle ook in jul hele lewens-wandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” (Lees ook Levitikus 11:44-45.)

In Hebreërs 12:14 staan ook geskrywe: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waar-sonder niemand die Here sal sien nie!”
Ons kan onsself heiliges noem as ons gelowiges is, maar dan moet ons geestelik aanhou groei wat dan heiligmaking genoem word. Hoe meer ons ons verhouding met die Here versterk en verinnig, hoe vinniger vind heiligmaking plaas.
My Bybel, die 1979-druk, het sulke interessante opskrifte. Kom ons kyk na die boek Jakobus.
Geloof en wysheid: My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom…
Arm en ryk in die gemeente: Die gelowige wat 'n arme is, moet hom daarin verheug dat God hom aansien gee, en die een wat ryk is, dat hy 'n arme is voor God…
Versoeking en verleiding: Geluk-kig is die mens wat in versoeking standvastig bly.
Hoor en doen: My liewe broers, dit moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou om te praat nie en nie te gou kwaad word nie.
Moenie volgens die uiterlike oordeel nie: My broers, julle wat glo in ons Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie.
Glo en doen: Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so 'n geloof 'n mens red?
Beheersing van die tong: Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier word en is al deur die mens getem, maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is 'n rustelose kwaad, vol dodelike gif (skinder) (Jakobus 3:7).
Waarskuwing teen wêreldliefde en hoogmoed: Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie?
Moenie kwaadpraat nie: Moenie van mekaar kwaad praat nie, broers.
Afhanklikheid van God: Kom nou julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en 'n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak. Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie!
Waarskuwing aan rykes: Julle rykdom sal tot niet gaan en julle klere sal deur motte opgevreet word, jul goud en silwer sal verroes.
Volharding: Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom.
Moenie sweer nie: My broers, dit is belangrik dat julle nie moet sweer nie, nie by die hemel nie, nie by die aarde nie en ook nie met enige ander eed nie.
Hierdie is 'n paar eenvoudige dinge waarteen die Bybel ons waarsku. Ons moet ook die vrug van die Gees dra, nl. liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbe-heersing (Galasiërs 5:22-23). Dit is maar net 'n paar Skrifgedeeltes en raad wat ek u kan verskaf. Laat ons kennis neem daarvan, daarna luister en volgens die Skrif lewe en dan sal ons die ewige lewe beërwe!
LENIE CROUS - 072 757 4646.

Indeks     Index