SOOS 'N GETEMDE PERD... |
|
  |
In die Saligsprekinge lees ons hierdie woorde van Jesus:
"Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe" (Matt. 5:5). Die algemene begrip van "sagmoediges" is dat so 'n persoon nie vir homself kan veg nie. Hy is 'n byna ruggraatlose mens wat hom aan alles en almal sal onderwerp om sodoende net die vrede te kan bewaar. Maar die Griekse begrip van "sagmoediges" is praus, en dit hou heeltemal 'n ander betekenis in. Veral wanneer Jesus van Homself sê: "Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig (praus) en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele..." (Matt. 11:29). Dink vir 'n wyle aan 'n wilde perd wat getem moet word. Daar bestaan vandag verskillende maniere om 'n perd te tem. Soms het mense geweld as metode gebruik. Vandag probeer mense eerder om die perd se liefde en vertroue te wen, hom geleidelik "mak te maak" en op dié manier "in te breek". Die hoofgedagte is om die perd se wil heeltemal aan die ruiter se wil te onderwerp en hom sodoende met al sy krag wat nou tot die ruiter se beskikking gekom het, bruikbaar te maak. Nou het hy 'n praus perd geword! 'n Bruikbare instrument vir die mens. En dit is waar ons as gelowige kinders van God moet kom - geheel en al aan God oorgegee. Ons eie wil / "ek" moet aan Sy wil onderwerp word, sodat Hý ons kan gebruik soos Hý wil. Somtyds gebeur dit spontaan wanneer ons onsself aan Hom oorgee, sodat Hy algehele beheer oor ons mag hê. Maar somtyds kom daar storms in ons lewens of ons gaan deur 'n krisis waaroor ons geen beheer het nie. Dit is dán dat ons voor Hom neerbuig, ons eie onvermoë voor Hom bely. Ons vra Hom dan dat Hy sal ingryp in die omstandighede waarin ons onsself bevind. Dit is dán wanneer ons ons afhanklikheid van Hom besef en bid: "Here, as U my nie nóú help nie, gaan ek ten gronde! Ek gaan 'n insinking kry, ek kan nie hierdie probleem te bowe kom nie!" En nou het die gelowige praus geword - heeltemal van Hom afhanklik. Dan het ons op die plek gekom dat nie meer ek nie, maar God my probleem sal oplos. Mag ons dan altyd in daardie plek van afhanklikheid bly! Jesus het gesê: "Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel" (Matt. 5:3). Die afhanklike kind van God is soos 'n perd wat goed getem is. Dit is dán dat God vir jou sê soos vir Paulus: "My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring" (2 Kor. 12:9). Daarop antwoord Paulus: "Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk" (2 Kor. 12:9-10). Het jy al die krag van God ontdek in jou eie menslike swakheid? Dan sal jy ook weet wat dit beteken om op Sý krag staat te maak. Dit moet die leefstyl van elke gelowige word om op God te vertrou vir elke probleem in sy lewe. Jesus sê immers: "Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig." (Matt. 11:28-30). Die Amplified Bible sluit mooi hierby aan: "Roll your works upon the Lord [commit and trust them wholly to Him; He will cause your thoughts to become agreeable to His will, and] so shall your plans be established and succeed" (Proverbs 16:3). Kom, gee vandag jou hele lewe aan Jesus oor! Waag dit om God te vertrou! © Dr. J J Venter |