GEE MY 'N MAN



  Pietertjie lê met halftoe oë. Hy slaap nie... soos sy ma dink nie...

Nee, elke woord wat sy van Dawid en Goliat vertel het, hoor hy. Die woorde val soos klippies, ploems-ploems, in sy hart om daar gebêre te word.

Nadat sy klaar vertel het, soen Mamma hom saggies en loop op haar tone deur toe. Sy ruk soos sy skrik toe 'n helder, op-en-wakker stemmetjie van die bed af vra: "Mamma, wat is 'n slingervel?"

"'n Slingervel? Dis 'n kettie... jy het mos een," sê Mamma en skakel die lig af. "Lekker slaap, Pietertjie."

'n Kettie! Pietertjie sit regop in die bed. Dan het hy die regte wapen, nes Dawid s'n. Een vir een haal hy nou die woorde uit sy hart. Hy onthou alles wat Mamma vertel het.

Goliat het gesê: "Gee my 'n man, dat ons saam kan veg!" En Dawid het gesê: "Ek kom na jou toe in die Naam van die Here!" En later; "want die stryd behoort aan die Here."

Pietertjie sak terug teen die kussings en hy sien Grootben Pieterse soos hy hom daardie middag laat gesien het - Grootben, die werktuigkundige. Hy was op die hotelstoep, voor die kroeg... daar waar Mamma sê 'n mens mag nie gaan nie. Grootben was baie kwaad, hy het sy arms rondgeswaai en vloeke het oor sy lippe gebars.

"Vloeke!" het hy geskree. "Julle sit Sondae die kerkbanke vol en weeksdae leef julle vir julleself!" Toe het Pietertjie gesien hoedat hy sy vuis voor een van die dorp se diakens swaai. "

Jy het nie 'n vinger verroer om vir Kotie te help toe haar man weggeloop het nie, en julle..."wys hy sommer in die bondel, "julle is almal agteraf, julle skinder van mekaar en bedrieg mekaar! Skynheilige spul...! "Hy het so 'n lang spoeg gespoeg.

Stil-stil het elkeen verdwyn en toe het Grootben vir oulaas geskree: "Gee my 'n man!"

Pietertjie dink diep. Hy is 'n man, al is hy maar net ses jaar oud. Vandag het Pappa so gesê toe hy sy toon so-o-o seer gestamp het en nie gehuil het nie.

Klaasvakie begin nou oorneem en terwyl Pietertjie wegdommel, prewel hy nog eenmaal: "Gee my 'n man..."

Die volgende more wag hy net totdat Mamma in die kombuis besig is, en toe vat hy koers in die rigting van die motorhawe. Mamma sal dink hy is na Kobus toe.

In die straat tel hy drie klippies op. Hy kan nie so goed mik en skiet soos Dawid nie... hy het nog net een mossie omgeklits... maar ... maar hy is 'n man!

By die motorhawe loer hy in. Grootben lê onder 'n motor. Hoe gaan hy hom in die hande kry? Hy sit solank 'n klippie reg in sy kettie.

Geduldig wag Pietertjie totdat Grootben al steunend onder die motor uitsukkel en stram orentkom. Hy staan tydsaam sy hande aan 'n ou lap en afvee.

Nou! Pietertjie gee 'n tree nader en sê: "Ek kom na jou in die Naam van die Here! Die stryd behoort aan die Here." Grootben kyk op en luister verbaas.

Noukeurig mik die seuntjie en trek los. Die klippie tref Grootben teen sy skouer en haastig sit Pietertjie weer 'n klippie in sy kettie.

Grootben is egter vinniger. Met twee treë is hy by Pietertjie en neem die kettie uit sy hande. "Hoekom wil jy my skiet?" vra hy ernstig.

"Oom, Oom het gistermiddag gesê: 'Gee my 'n man wat my kan... kan... oor... oortuig dat dit goed is om kerk toe te gaan.' Onthou, Oom?"

Verbysterd knik Grootben sy kop. "En jy het gedink jy is die man?"

"Ja, Oom. Sien, Oom, ek is nie bang om vir Oom te sê dat die Here Oom liefhet en Oom graag in die kerk wil sien nie. Ons gaan elke Sondag daarheen om vir Hom te bid om ons sondes te vergewe... om Hom te eer... en ..." Pietertjie weet nie meer wat om te sê nie.

Grootben antwoord niks nie en toe die seun opkyk in sy gesig, sien hy tot sy ontsteltenis dat die man se lippe bewe en trane begin langs sy wange afrol.

Nou weet Pietertjie nie wat om te doen nie! Sy mamma sal weet! Hy neem Grootben aan die hand en sê: "Kom, Oom."

So hand-aan-hand stap die twee by die tuinhekkie in. Tannie Bets hou hulle verbaas dop. Die dorp se baasbakleier word deur haar seuntjie die stoep opgelei terwyl hy uitroep: "Mamma, kom help!"

Sonder woorde kom sy uit en beduie dat Grootben moet sit. Sy weet nog nie wat om te sê nie, maar Pietertjie is nou die ene grootman.

"Mamma moet asseblief vir oom Grootben nog meer van die Here vertel, want hy weet NIKS van Hom nie."

Grootben het intussen sy trane weggesluk en vertel aan die verbaasde tannie Bets hoe dit gebeur het dat hy in die middel van die dag op een van haar stoepstoele sit.

Hy sluit af met: "Ek het eindelik 'n MAN op ons dorp ontmoet, iemand wat dit gewaag het om my teë te staan. Die ander is almal bang vir my. Kan u my miskien meer vertel van die Here van hierdie man?"

Vir die tweede keer stomgeslaan, kon tannie Bets net beduie dat hulle alleen studeerkamer toe moes gaan, waar sy die Bybel geneem en vir Grootben die Weg van Saligheid verduidelik het.

Onder 'n stortvloed van trane het Grootben sy sondes bely en die Here as sy Verlosser aange-neem. Dit was 'n nuwe man, met 'n stralende gesig, wat 'n rukkie later na sy werk teruggestap het. En sy plek in die kerk was ook nooit leeg nie!

[Uit: Ontmoet ons Maats, Effie de Vos, Fonteine Publikasies, 1981].




Indeks     Index