![]() |
|
  |
Het die skouspel van die see u al ooit in vervoering of verwondering gebring? Of die hemelruim: die wit vloot wolke - skoon, sag, rustig, óf die stormjaers wat deur die winde voortgedryf word - onheilspellend? Hoeveel kunsgalerye, museums, of monumente beeld gebeure, tydperke, die sterrehemel, mense, diere of die natuur uit? In die Sistynse Kapél in die Vatikaanstad, Rome, staan jy vasgenael voor Michelangelo se asemrowende uitbeelding van die Skepping en baie ander Bybelse verhale, asook die uiteindelike Verdoemenis wat vir sommige wag! In die Voortrekkermonument kan ons meeleef met die verhale van lief en leed van ons voorouers wat deur die fresco's uitgebeeld word. Maar wat is skouspelagtiger as die menslike siel, die grenslose gees met al sy verskillende fasette en kompleksiteit? En die volle som van hierdie menswees het 'n blywende effek wat ons INVLOED noem. Dit is iets wat ALTYD van ons lewens uitgaan, soos die lig van 'n lamp, die hitte van 'n vlam, of die reuk van 'n blom... Om te lewe, is om invloed op ander se lewens te hê, òf ten goede òf ten kwade. Ander mense let op ons lewenswyse en hulle dade of optrede word deur ons s'n getemper of gewysig. Elke GOEIE lewe oefen 'n tweevoudige invloed uit: direkte uitvloeisels wat tot seën vir ander mense is, asook die stille inspraak waardeur ander beter gemaak of besiel kan word om soortgelyke goeie dinge te doen. Selfs die dood beëindig nie invloed nie. Dit duur voort. Dink maar aan bekende Bybelfigure en geloofshelde wat deur hulle lewensinvloed vandag nog vir ons tot inspirasie dien. ABRAHAM moes kies om te bly waar hy was óf om sy gesin te neem en weg te trek na 'n onbekende bestemming om sodoende aan God se Stem gehoorsaam te wees. Hy moes kies tussen sy bestaande sekuriteit of 'n onsekere toekoms. Sy gehoorsaamheid aan God se opdrag het die geskiedenis van die hele wêreld beïnvloed en tot vandag toe deel die mensdom nog in die seën van die ontstaan van die volk wat God gebruik het om Homself te openbaar en waardeur Hy Jesus Christus as Verlosser na die hele wêreld sou stuur! SAMUEL is gebore in antwoord op 'n moeder se hartstogtelike gebede. Sy naam beteken weliswaar "van God afgebid". Omdat hy van kleins af gewillig was om in klein takies 'n toegewyde dienskneg van God te wees, is hy deur God geroep om o.a. priester, profeet, raadgewer en rigter van Israel te wees. SAMUEL se lewe word só geskilder: "Samuel het grootgeword. Die Here was by hom en het nie een van Samuel se woorde onvervul gelaat nie. Die hele Israel van noord tot suid het gemerk dat Samuel betroubaar was as profeet van die Here" (1 Sam. 3:19-20). DANIĖL se hele lewe demonstreer 'n persoon wat in woord en daad nie afgewyk het van sy beginsels nie. Hy het met wysheid God se Woord op sy eie lewe van toepassing gemaak. Hy was nie net 'n hoorder nie, maar ook 'n dader daarvan! Beide sy fisiese en geestelike dieet het 'n baie belangrike deel gevorm van sy intieme verhouding met sy God. Sy volhardende, volgehoue gebedslewe is vir elke mens wat na sy afbeelding kyk, kosbare inspirasie. Ten spyte van verdrukking en vervolging het hy getrou aan God gebly! JEREMIA se geweldige uithouvermoë ten spyte van antagonistiese en apatiese toehoorders laat ons verwonderd toekyk hoe sy lewe afgeskilder word. Hy moes leer om met al sy menslike krag en vermoëns aan God en aan God se liefde vas te klou. Met sy hele wese het hy die waarheid verkondig terwyl hy soms geïgnoreer is en dikwels in lewensgevaar verkeer het en baie erg vervolg is. Sy waarskuwings is in die wind geslaan en hy het met bittere trane aanskou hoedat koning na koning die volk van God verlei het agter ander afgode aan. Hoewel hy menige keer moed wou opgee, het hy ten spyte van sy volk se wederstrewigheid, getrou aan God gebly tot die einde toe. STEFANUS is deur die apostels as diaken gekies wat moes help met die daaglikse versorging van die Griekssprekende weduwees wat afgeskeep is. Hy is beskryf as iemand wat "vol van die Heilige Gees is en wysheid het..." (Hand. 6:3). Hy het sy taak met getrouheid verrig en het bekend geword as iemand "aan wie God baie genade en krag gegee het" en hy "het groot wonders en tekens onder die volk gedoen" (vers 8). Hy was ook 'n baie goeie spreker en voor die Joodse Raad het hy uitgewys hoe die Messiaanse profesieë in Jesus vervul is. Met hierdie woorde het hy sy eie doodsvonnis uitgespreek. Lede van die Raad het op hom afgestorm, hom buite die stad uitgesleep en gestenig. In sy sterwensoomblikke het hy gebid en gevra dat God hulle sal vergewe! In sy kort lewe het hy baie gou soos Jesus geword, want hy het eers sy lewe gelééf vir die Evangelie van Jesus Christus en toe gesterf daarvoor! As ons na Stefanus se skildery kyk, is óns bereid om regtig vir Christus te lééf en ook om vir Hom te sterf? Met bogenoemde voorbeelde in gedagte kan ons ook weer met nuwe oë na die geloofshelde van Heb. 11 kyk. Hul lewenskilderye is "'n groot wolk van getuies" (Heb. 12:1) vir elkeen van ons nog vandag. Deur na hulle opregte en toegewyde lewenswandel te kyk, word ons aangemoedig om die goeie stryd te stry en moet ons ook "elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof " (vers 2b). Van elke mens wat ooit geleef het of wat nóg sal leef, word 'n skildery gemaak waarna gekyk kan word en uit wie se lewensportret ons die goeie of die slegte kan neem. Hoe sal ander mense ons skilder of uitbeeld? Hoe sal ons selfportret lyk? Want deur ons woorde en dade skilder ons eintlik 'n skildery van onsself! Watter invloed laat óns lewens na? Goeie invloed of slegte invloed, want slegte lewens en slegte dade het OOK hulle invloed. Daar word vertel dat 'n sterwende man, wie se lewe andere baie geskaad het, uitgeroep het: "Versamel my invloed en begrawe dit saam met my in die graf!" Die man het hierdie wêreld verlaat, maar sy invloed het agtergebly en die GIF daarvan ook om vir geslagte lank in die lewens van ander te werk en uit te woed. Kom ons besin ernstig oor die invloed wat vanuit ONS lewens uitgaan. Laat ons waak oor elke woord, gedagte en optrede. Net in dié mate wat ons met die Gees van God vervul is en die liefde van Christus in ons gestalte gevind het, sal ons invloed heilsaam en tot seën vir ons medemens wees. Mag die geur van ons lewens en die invloed wat van óns uitgaan, welriekend wees en diegene wat deur ons lewens aangeraak word, besiel om die volkomenheid van menswees na te jaag... © Huegene Venter, 074 254 2319. |