![]() |
|
  |
Om te sê dat ons vandag teen 'n geweldige pas lewe, is al 'n gemeenplaas. Dat dit groot spanning en ander komplikasies meebring, weet ons ook. Om te sê ons moenie so haastig lewe nie, sou egter naïef wees. Ons het in 'n onafwendbare maalstroom beland! Vir wie, of vir wat kan ons die skuld gee? Vooruitgang, die sug na geld, oorbevolking in al sy kompleksiteit wat veroorsaak dat alles verhonderdvoudig is, 'n hoër lewenstandaard? Wie kan sê? Feit is dat ons in hierdie maal-stroom beland het waaruit ons nie maklik kan kom nie, of, soos 'n bekende skryfster dit stel: 'Ons is deel van 'n bondel wasgoed in 'n wenteldroër waarmee jy onafwendbaar maar moet saamsirkel.' Dit het 'n lewenstyl geword. Om dus sonder meer te sê ons moet stadiger leef, klink na 'n onmoontlikheid. 'n Sekere hoe-veelheid werk per dag móét net eenvoudig klaar, en daarmee basta. Vir baie mense is 'n laer versnelling onmoontlik. Dit lyk dus of die oplossing vir die gejaagdheid in die meeste gevalle nie soseer in die vermindering van verpligtinge en bedrywighede lê nie. Nee, die oplossing lê veel eerder binne die mens se gees. In ons oorvol dag moet ons tye maak waarin ons remme aanslaan en stil word, tye waarin ons bestek opneem. Dit is die geheim van sinvol lewe, dit is die manier waarop ons die gejaagdheid kan besweer. Vir innerlike kalmte is hierdie tye van stilte 'n vereiste, al moet dit beteken dat ek soggens 'n halfuur vroeër opstaan of saans 'n halfuur later gaan slaap. Wanneer ons tot stilte gekom het, kan ons onsself afvra: Waarmee is ek so besig? Wat wil ek bereik? Is my prioriteite reg? Gebruik ek baie van my tyd (en geld) vir luukshede, plesier en afleiding, maar baie min vir ander mense en vir dienslewering? Het ek baie tyd vir oppervlakkige sosiale verkeer, maar min vir 'n ouer wat oud word? Hoeveel waarde heg ek aan 'n stil uur in die kerk, of om doodstil na 'n probleem te luister, of om 'n boek te lees wat my meer insig in my medemens gee, of om 'n kwartier lank na 'n mooi sons-ondergang te staan en kyk? Werk ek so hard aan my dag se 'program' dat ek nie tyd het om my te verwonder oor my kind se grootword, of om na die pragtige wêreld waarin ons woon op te let nie, of om dankie te sê vir goeie gesondheid nie? As mens tyd vir ordening en vir stilte in jou lewe maak, en gereeld in verbinding is met die Beplanner van 'n mens se lewe, kom daar 'n kalmte en 'n rustige doelgerigt-heid in jou lewe. Dan rig jy uitein-delik baie meer uit as wat jy in jou groot haas sou kon regkry. Ons is dan nog besig ja, maar dis 'n ontspanne, doelgerigte besig-wees, soos Paulus se hardloper wat nie moeg word nie. Dan sal ek ook die krag hê om lastighede in my besige dag kalm te hanteer - daardie turksvy wat ons daagliks teëkom en ons dag so kan versuur dat ons dinge sê en dink waaroor ons later spyt is. U ken dit: tot oormaat van ramp, 'n telefoon wat lui met 'n noodkreet van 'n vriendin nes ek die dag 'n duisternis van dinge het om af te handel; die langdradige, maar eensame buurman wat kom kuier nes ek aandete wil maak, 'n kind wat huil-huil die huis binnekom as ek reeds laat vir my werk is. Sou dit tog nie gaaf wees as ek onderbrekings só kon reël dat dit inpas by my "besige" program nie! As jy liefde of hulp kan gee, sê Ludwig Kohler, stoot dan alles waarmee jy besig is met 'n haal van die arm opsy, en gee dan kwistig van jou tyd! Die Christen hanteer ook sulke tye met grasie en in retrospeksie besef hy/sy dat die aandag wat hulle aan die onderbreking gegee het, sinvoller tydsbesteding was as dit wat hulle op hul "program" gehad het. Lees maar weer die beskrywing van Jesus se lewe op aarde, en jy besef dat Sy hele lewe feitlik uit onderbrekings bestaan het waar-voor Hy tyd ingeruim het in Sy besige dag. Waar het Hy die krag daarvoor gekry? Die antwoord lê daarin dat Hy dikwels na eensame plekke vertrek het waar Hy, in stille gesprek met Sy Vader, reserwes opgebou het vir die aansprake van 'n nuwe dag. Ek wil stil wees, Here, en op U wag. Ek wil stil wees dat ek kan verstaan wat in die wêreld gebeur. Ek wil stil wees om na aan al U skepsele te kom en hulle stemme te hoor. Ek wil stil wees dat ek onder die baie stemme U Stem kan herken. Ek wil stil wees en my daaroor verwonder dat U vir my 'n woord het. Here, ek is nie werd dat U na my toe kom nie, maar spreek net een woord, dan word my siel en gees gesond! Tuesday, January 17, 2017 [Uit: Deur die liefde aangeraak, Winnie Rust, NG Kerk-Uitgewers, 1982]. |