GETUIENISSE VAN GOD SE BESKERMING
 
Toe daar 'n klompie jare gelede groot oorstromings was in Natal, was my seun en sy familie daar woonagtig.

Hulle het in 'n dubbelverdieping-huis gewoon wat 'n groot deel van die erf aan die voet van die berg beslaan het. Tussen die berg en die huis het die Umbilorivier gekronkel. Vanaf die balkon van die huis kon 'n mens op die rivier afkyk. Die rivier het so 'n draai gemaak by die linkerkantste bure en dan regs verbygevloei en tussen die bome verdwyn. 'n Houtheining het hulle geskei van die regterkantste bure. Voor die huis was daar 'n nou teerpad met feitlik geen parkeerplek nie.

Met die reëns het die rivier geweldig afgekom en ook teen die hange van die berg het die waters neergestort. Dit was skrikwekkend om te aanskou!

My skoondogter en die kinders was die dag alleen tuis. Sy het die situasie deur die sitkamervenster aanskou en net Ps. 91 hardop uitgeroep. Met die dat sy dit uitspreek, sê sy, het daar 'n stilte oor haar neergesak. Sy het vrede gemaak met die siedende, kol-kende waters en haar hart het in vreugde boontoe uitgereik met verse 14 en 15 van Ps. 91: "Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken. Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee."

Nadat die storm bedaar het en die waters gesak het, en dit veilig was om na buite te gaan, was my skoondogter verras met wat sy gesien het. Die rivier se vloedwater het die linkerbure se grondwal weggespoel tot gelyk met die agterste muur. Die verspoelings was net so erg by die regterkantste bure. Hulle erf was egter heeltemal onaan-geraak. Voor die huis het die water oor die teerpad gespoel en 'n sloot van 'n meter diep by 'n meter breed reg langs die hout-heining uitgekalwe - maar die heining het bly staan soos 'n brandwag! Só het God Sy Woord gestand gedoen!

'n Paar jaar gelede het my seun-hulle na die VSA verhuis. Met die woed van Orkaan Andrew was die gesin se huis reg in die pad van die verwoesting. Ten tye van die orkaan was hulle met vakansie by Disneyland. By hul terugkeer het die huis nog gestaan! Driekwart van die huis se dak het weg-gewaai, die agterste heining en 'n glasdeur is meegesleur, maar hul meubels was nie eens erg beskadig nie! Hul klere het nog mooi netjies in die kaste gehang. Tot die mikrogolf-oond, die twee TV's en die rekenaar het gewerk!

Voor die huis het die twee voertuie geparkeer gestaan want daar was nie 'n motorhuis waarin dit geberg kon word nie. Waar ander voertuie in die lug gevlieg het, het híérdie twee voertuie bly staan! Op die een voertuig se dak het 'n tak geval wat 'n effense skraapmerk gelaat het, maar vir die res het die voertuie net gestaan waar dit gestaan het.

Ek kan daarom getuig dat ons Here onbekryflik goed is vir Sy kinders wat by Hóm, die Aller-hoogste, skuiling soek.

- Janet Dreyer

--- o O o ---



 
Ek en my man, Frik, moes twee ure spandeer op Hartbeesfontein om te probeer om die stukkende "alternator" van ons vragmotor te herstel. Dit was egter onsuksesvol en ons ry toe maar verder om 'n vrag tamaties daar naby op te laai. Van daar af ry ons toe met vier gelaaide batterye Pretoria-mark toe.

Ons het so 18:45 van die plaas af vertrek. Langs die pad sou ons die batterye wissel om so nou en dan die ligte te kon aanskakel. Ons sê nog vir mekaar dat ons vanaand in die geloof wandel en nie in aanskouing nie (2 Kor. 5:7), want om ons is dit DONKER!

In die vragmotor lees ons Ps. 91 en al die ander tekste wat handel oor Jesus se beskerming van die mens. Ons vra Jesus om engele bo ons, langs ons, en onder ons te plaas en voor ons uit te stuur. Frik en ek spreek in geloof dat Jesus "... die lig op ons pad en die lamp vir ons voete..." sal wees. Ons ry later net met parkeerligte aan terwyl ons Halleluja-liedjies sing en ons Vader loof en prys. Jesus en die engele is met ons.

Omtrent 30 kilometer van Pretoria af, op die Krugersdorp-snelweg, word ons van die pad afgedwing deur 'n bakkie met 'n klomp mans daarin. Die man langs die bestuurder en een agter op die bakkie rig AK47-gewere op Frik en beveel hom om te stop.

Toe ons tot stilstand kom, word Frik uit die vragmotor gepluk. Een man kom na my kant toe en skree: "Open!" Voor ek egter nog iets kon oopmaak, kap hy die kantruitjie met sy geweerloop stukkend. Ek kon net een keer sê: "Satan, in die Naam van Jesus sal jy niks regkry nie!" Daarop word ek ook uitgepluk.

Hulle vra toe "Where gun?" Daarna neem hulle ons teen die skuinste van die opgeboude pad na onder. Toe ons halfpad is, hoor ons hoe ry ons vragmotor weg. Toe ons onder kom, word ek en Frik deursoek en word vir ons geskree: "Lalapanzi!" Dit beteken "Lê PLAT!"

Die een wat my deursoek het, ruk toe die gordel van my lyf af en ek stoei vir al wat dit werd is om sy hande van my lyf af te hou. Sonder dat ek besef wat ek doen, hoor my ore hoe ek hardop bid. Die man skree: "Shut up!" Maar ek bid net al hoe harder. Hy slaan my toe liggies met die geweer oor my kop. Daarna bind hulle vir my en Frik aan mekaar vas, en ry met hulle eie bakkie weg. Ek en Frik woel onsself toe los, gryp mekaar vas en loof en prys ons Here Jesus Christus wat ons lewens gespaar het!

By die snelweg aangekom, roep en soek ons na ons swart helper, maar besef toe dat hy saam met die vragmotor weg is. Ek bid weer en sê: "Jesus, laat iemand tog by ons stop wat met ons deernis sal hê."

Later stop daar twee motors, met 'n man en 'n vrou elk in hul onderskeie motor. Hulle laai ons op en ry toe met die Olifants-fontein-afrit na hulle plot te Midrand. Op pad na hulle huis kom ons ons vragmotor teë waar dit teen 'n wal staan.

Kyk hoe goed was ons Vader! Ek vra Hom om iemand te laat stop, maar Hy doen dit duisend maal beter. Nie alleen laat Hy mense stop nie, maar op pad na hulle huis, kry ons ook ons vragmotor staan, kompleet met sy vrag! Ek vra toe vir die vrou, Donelly Hoek-stra, waarom sy by ons gestop het. Sy antwoord: "Toe ek jou hande so in die lug sien om iemand te probeer stop, toe sê iets vir my: 'Stop, die mense het moeilikheid!'"

Ons swart helper het van die vragmotor afgespring, na 'n nabygeleë vulstasie gehardloop en die polisie ontbied. Later die aand het ons hom toe by die polisiestasie gekry. Vroeg die oggend al het ek die BLOED van JESUS oor al ons plaaswerkers gespreek.

Al wat ons op die ou einde vermis het, was twee horlosies, R100 en twee Bybels (Ou Vertaling) wat albei in rooi gemerk is. Ek glo dat WAAR daardie twee Bybels is, hulle gelees sal word.

Reeds voor hierdie aanval was ons die hele tyd met God se Woord besig. Ek is oortuig daarvan dat dit die Woord van God was waaraan ons met geloof en oortuiging "stem" gegee het, wat gewerk het, en met die hulp van die engele dat dit die vervulling gebring het van God se waarheid soos dit geskryf staan in Ps. 91:15 - "Hy sal My aanroep en Ek sal hom verhoor. In die nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom uitred en eer aan hom gee." Prys die Here!

- Daphnie Botha

Uit: My Skuilplek, Anita Jacobs, Robé Drukkers, Potchefstroom


Indeks     Index