NOG 'N KANS...
 
'n Skatryk man wat alles in die lewe gehad het, 'n welvarende besigheid, 'n mooi groot huis, die nuutste ingevoerde motor, 'n groot bankbalans en boonop 'n pragtige vrou en seuntjie, het net met vriende en mense in die hoogste sosiale kringe geassosieer.

Volgens hom het hy alles in die lewe gehad wat sy hart maar kon begeer en was daar nie werklik tyd om op Sondae kerk toe te gaan nie. Ook het hy nie tyd gehad om sy seuntjie van Jesus te vertel nie. Volgens hom moes die moeder dit maar doen, of dit moes by die skool gedoen word, aangesien hy nie tyd vir sulke dinge gehad het nie.

Soos dit maar gaan, het status en die sosiale lewe na 'n paar jaar sy tol geëis. Die vele verpligtinge, onthale en vergaderings het altyd gepaard gegaan met die gebruik van drank. In die begin was dit net 'n drankie of twee omdat hy moeg was en dit hom kwansuis laat ontspan het. Later was dit drankies om 'n kliënt te trakteer of om sy gesiene vriende en kollegas te onthaal. Daar was nooit meer tyd vir sy gesin nie, want dan sou hy transaksies moes prysgee.

Op 'n dag het hy weer heel beskonke by die huis aangekom en gevind dat sy vrou hom verlaat het. Dadelik het hy hom heeltemal aan drank oorgegee. Na 'n paar jaar was die besigheid bankrot, het hy geen geld of vriende meer gehad nie en het hy na al die jare nie eens geweet waar sy vrou of kind hulle bevind het nie. Al die vriende en kollegas wou nou niks meer met hom te doen gehad het nie. Hy het 'n boemelaar geword en was 'n volslae alkoholis.

Na jare se rondswerf sit hy eendag op 'n bankie in 'n park. Skielik hoor hy die pragtigste musiek. Die liedjie klink so bekend, maar hy kon nie onthou waar hy dit al gehoor het nie. Moeisaam staan hy op om te gaan kyk waar die musiek vandaan kom en besef toe dat dit vanuit 'n kerkgebou kom. Hy sien mense ingaan en besluit dat hy sal wag totdat almal in is en dat hy dan op 'n trappie sal gaan sit en daarna luister.

Toe almal reeds binne is, gaan sit hy op 'n trappie naby die deur waar hy seker is niemand hom sal sien nie. Skielik verskyn 'n klein dogtertjie langs hom en vra: "Oom, hoekom sit oom hier en hoekom gaan oom nie in nie?" Voor hy kon antwoord, kyk hy stip na die kind en wonder waar sy seuntjie nou is. Hy is seker al 'n volwassene. Die dogtertjie vat aan sy hand en pleit: "Kom oom, kom saam met my in."

"Nee, my kind," antwoord hy. "Ek kan nie. Ek is vuil en ongeskeer en my klere is stukkend en oud." "Asseblief oom, kom saam met my," pleit sy. "Jesus kyk nie na 'n mens se klere nie en my pappie sal baie hartseer wees as hy weet oom wou nie inkom nie."

Soos in 'n droom staan hy op en stap saam met die dogtertjie, wat sy hand nog steeds styf vashou, die kerk binne. In 'n waas van trane sien hy die mense rondom hom sing en agter die preekstoel die predikant wat hom met 'n glimlag en kopknik groet. Hulle gaan sit heel voor in die kerk en die dogtertjie fluister: "Dit is my pappie. Hy is die dominee."

Skielik onthou hy waar hy die liedjie wat hulle sing, gehoor het. Sy lewe speel soos 'n rolprent voor hom af. Hy sien sy moeder die lied vir hom leer, saam met hom kniel en bid. Trane stroom nou oor sy wange en in sy hart bid hy: "Here vergewe my. want ek het dit nie vir my kind gedoen nie en ek weet nie eens of hy U ken nie."

Na afloop van die diens wil hy vinnig opstaan om uit te loop, maar die dogtertjie klou sy hand stewig vas en beduie dat haar pappie hom wil sien. Die predikant met die vriendelike glimlag kom vinnig nader en steek sy hand uit en sê: "Welkom hier by ons. Kom saam huis toe en kom eet 'n lekker bord kos." Flouerig probeer hy verskonings opper, maar ten einde laaste is hy saam huis toe. Nie eenkeer vra die predikant hom wat sy naam is nie, maar noem hom sommer 'my vriend'.

Tuis aangekom, wag die predikant se vroutjie hulle in, groet haar gesin liefdevol en heet hom welkom met die woorde: "U kan gou heerlik gaan bad want ek kan sien u is baie moeg en het seker ver geloop. Ek sal sommer vir u skoon klere in die badkamer neersit en daarna kan ons aansit vir ete."

Terwyl hy bad, dink hy aan sy vrou en kind en wonder hy wat van hulle geword het. Hy dink aan sy vriende vir wie hy so baie gedoen het en wat nou niks met hom te doen wil hê nie. Hy dink aan hierdie wildvreemde mense wat hom nie eens ken nie, maar tog bereid is om met hom te gesels, kos en klere te gee en nou besef hy dat hy materieel ryk was, maar arm aan geestesgoedere, want hy sou so iets nooit kon doen nie. Mense wat nie ryk en welvarend was nie, was benede hom.

Na ete besluit hy om vir hierdie gesin sy lewensverhaal te vertel. Hy stort sy hart uit en hoe meer hy vertel, hoe hartseerder word hy. Aan die einde van sy verhaal stroom die trane ook van die predikant en sy gesin se gesigte af. Die predikant vra hom wat sy naam is en toe hy dit hoor, gooi hy snikkend sy arms om die boemelaar se nek en sê: "Pappie, my dierbare pappie! Die Here het jou vir my teruggegee!" Nodeloos om te sê dat op daardie dag tot laatnag gesels en gehuil is! Hierdie eertydse ryk man het daardie nag sy lewe aan Jesus oorgegee en vir die eerste keer in baie jare was hy weer rustig en volkome gelukkig!

- Oorgeneem


Indeks     Index