SIT JY NOG IN DIE BOOM...? | |
![]() |
|
  |
Hierdie ware gebeure speel hom af in die Lukas-evangelie, soos deur Lukas self vertel en deur die eeue aangerol kom na elke leser wat dit met aandag lees en dit absorbeer met 'n dringendheid in sy gemoed. Dit staan opgeteken in Luk. 19:1-10. Wie was Saggéüs? Die karakter word vir ons ingekleur deur die verhaal self, asook afleidings vanuit toepaslike Skrifgedeeltes. Hy was 'n ryk man. Dalk 'n boer in die omgewing van Jérigo, maar ook die hoof van die tollenaars in Jérigo (belastinggaarders of invorderaars van belasting aan die Romeinse Ryk). By sy eie volk was hy gehaat hieroor omdat hy belasting ingevorder het vir die gehate Romeinse Ryk wat die geld weer vir hulle eie spandabel-rige lewenstyl gebruik het en vir hulle eie luukse bouprojekte. Daarby het hy ook sy eie volk bedrieg deur méér in te vorder as wat nodig was en homself op hierdie manier verryk het. Dus, 'n uitgeworpene en veragte deur sy eie volksgenote. Maar, by dit alles, was hy 'n soekende siel: Hy wou Jesus graag sien (vs. 3). Sy rykdomme kon hom nie bevredig nie. Hy het na iets méér gesoek in sy lewe. Die blinde man in die vorige verhaal, net voor Jesus in Jérigo ingekom het, het 'n ander behoefte gehad: Hy was arm en blind en 'n bedelaar, maar Jesus het hom gesond gemaak sodat hy 'n kwaliteitslewe kon gaan lei en vir homself sorg. Nou, net anderkant en buite Jérigo op pad na Jerusalem was dit Saggéüs se beurt om God se seën te ontvang. By albei gevalle was die omringende skare se weersin weer eens merkbaar. Maar waarom was húlle daar? Het húlle 'n behoefte aan redding of hulp gehad, of was hulle maar net nuuskierig? In albei gevalle het Jesus egter gaan stilstaan en persoonlike aandag aan die soekende siele gegee: "Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was" (vs. 10). Net in die vorige hoofstuk (hoofstuk 18) word die verhaal van die ryk jongman deur Lukas vertel. Vir hóm het Jesus gesê, nadat hy gesê het dat hy al die gebooie onderhou het van sy jeug af: "Nog een ding ontbreek jou - verkoop alles wat jy het, en verdeel dit onder die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; kom dan hier, volg My." Dan sê Lukas: "Toe hy dit hoor, het hy diep bedroef geword, want hy was baie ryk" (Luk. 18:22-23). In Matt. 19:22 lees ons: "Maar toe die jongman dié woord hoor, het hy bedroef weggegaan; want hy het baie besittings gehad." Maar nou terug na Saggéüs. Sy naam beteken "rein of "onskul-dig." Hoe ironies. Dit pas nie by sy karakter nie... Maar hy is desperaat. Hy móét by Jesus uitkom! Hy is klein van postuur, hy kan Jesus nie maklik sien nie, en hy hardloop vooruit en klim in die wildevyeboom op die weg na Jerusalem. En terwyl hy Jesus wil sien, sien Jesus hom! En Jesus gaan staan. Hy vergeet van die skare rondom Hom en vestig Sy oog op die soekende mens en sê: "Saggéüs, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis bly." Lukas verhaal verder: "Hy maak toe gou en klim af en het Hom met blydskap ontvang" (Luk. 19:5-6). Die ontmoeting was persoonlik: Jesus noem hom op sy naam! Dit was dringend: "Maak gou en klim af!" Dit was sonder versuim: "Ek moet vandag in jou huis bly!" Liewe leser, dieselfde Woord kom tot elkeen van ons vandag: "Maak gou en klim af!" En, "Ek moet vandag in jou huis bly!" Wil jy 'n toeskouer bly, in die boom sit of op die pawiljoen sit en toekyk soos die skare, of wil jy ook by God se Koninkryk betrokke wees? Elkeen het 'n keuse. Saggéüs het gekies en gesê dat hy die helfte van sy besittings sal gee vir die armes, en, as hy iemand te nagekom het, sal hy hom vierdubbel vergoed! Hy sê en doen anders as die ryk jongman wat bedroef weggegaan het. Want sien, elkeen het 'n keuse: Dalk het jy nie baie geld nie, maar jy het gawes en talente, opleiding en vermoëns om vir God aan te bied. Moenie langer in die boom sit nie! Klim af! Raak betrokke! Jesus soek arbeiders in Sy Koninkryk. Hy soek egter ook mense in nood met 'n geestelike behoefte om vandag vir Hom 'n antwoord te gee! Sal jy Hom in jou lewe innooi? En dán vir Hom diensbaar word? Jesus sê: "In die tyd van die welbehae het Ek jou verhoor, en in die dag van heil het Ek jou gehelp. Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil" (2 Kor. 6:2). Hy sê ook: "Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle Sy stem hoor, verhard julle harte nie..." (Heb. 3:7-8). En soos vir Saggéüs: "Saggéüs, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis bly." Jesus het onomwonde vir Sy dissipels gesê: "Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur" (Matt. 9:37-38). Elke kind van die Here is ook Sy dissipel, Sy volgeling, en behoort dus te bid en van sy Vader te hoor wat hy in God se Koninkryk kan doen! © Dr. J J Venter |