SY TELEURSTELLING WORD 'N SEËN... | |
  |
In 'n Franse dorp het 'n leer-werker gewoon. Sy van was Braille. Hy het 'n baie mooi seuntjie gehad. Sy naam was Louis. Eendag moes die outjie 'n skerp els uit sy pappie se werkswinkel gaan haal. Ongelukkig val hy en die els steek in sy een ogie. Die oog het baie seergekry en infeksie het gevolg. Die ander oog is ook aangetas en kort daarna het hy heeltemal blind geword. Hier-die verlies het baie smart, teleur-stelling en droefheid vir die hele familie tot gevolg gehad. 'n Blinde klein seuntjie - kan julle dink hoe baie sy ouers gehuil het? Wat sou die toekoms vir hom inhou? Hulle besluit toe om hom na 'n skool vir blindes te stuur. Daar gekom, vind klein Louis dat hulle die letters uit dik papier sny, dit weer op ander papier plak en dan voel die blinde kinders met hul vingertjies watter letters dit is. Dit het egter vreeslik baie tyd gemors en so 'n boek vir blindes kon nooit regtig gedruk word nie. Louis was 'n baie slim seun met 'n sterk ondernemingsgees en hy het planne begin maak. Hy wou iets beters uitvind. Eendag lees iemand vir hom 'n stukkie uit 'n koerant van 'n Franse kaptein in die weermag wat vir sekere van sy manskappe geleer het om bevele in die donker te lees. Dit het geskied deur middel van opgehewe dotjies op papier wat hulle met hul vingers kon voel. Louis het hardop uitgeroep: "Dit kan gedoen word! Dit kan gedoen word! Neem my asseblief dadelik na daardie kaptein toe!" Na 'n gesprek met hierdie kaptein het hy aan die werk gespring. Hy het 'n els gebruik om die dotjies op papier te maak. Nogal dieselfde instrument waarmee hy sy oog beskadig het! Kort daarna het hy homself, asook ander blindes, geleer om te lees. Jare later het hy ook musieknote in hierdie soort skrif gemaak. (Hy was self 'n goeie orrelis en tjellis). Mense het egter gesê dat dit onsinnig was. Volgens hulle sou niemand ooit op daardie manier musiek kon leer speel nie. Een aand het een van Louis se musiekstudente egter 'n musiek-uitvoering voor 'n groot gehoor gelewer. Die gehoor het oorver-dowend hul hande van opgewon-denheid geklap. Die musiek was pragtig! Ongelukkig kon Louis nie self teenwoordig wees nie, want hy was baie siek. Toe 'n vriend vir hom die nuus bring van die geslaagde musiekuitvoering, het hy van blydskap gehuil! Sy groot lewenstaak was afgehandel. 'n Paar dae later het hy gesterf. Sy "dotjieskrif" is vandag die wêreldbekende Brailleskrif. Selfs die Afrikaanse Bybel is in Braille-skrif te kry. So kan blindes ook selfs die Bybel lees. Jongmense, wanneer teleurstellings op ons pad kom, hoef ons nie moedeloos te word nie. Ons moet die Here vra wat ons kan doen om hierdie teleurstellings in 'n seën te verander. Die Here sal julle help soos Hy vir Louis gehelp het. [Kom ons vertel Stories, Mev. J C de Ferrières (Tant Sannie), Evangelie Uitgewers, 1968]. |