WAARHEID EN LIEFDE | |
  |
Prof. Dries du Plooy Fakulteit Teologie PU vir CHO Lees: Efésiërs 4:1-16. Vers 15a: “Ons sal in liefde by die waarheid bly.” Ons moet toegerus word vir ons werk as gelowiges; ons moet bouwerk doen (die Kerk van Christus moet opgebou word) en ons moet kan weerstand bied teen dwalinge en sondige en verkeerde dinge waarmee ons daagliks te doen kry. Ons kry ook vandag in die onderwys te doen met allerlei gedagtes en standpunte wat nie met die leer van die Bybel ooreenstem nie, en wat ons en ons kinders kan verwar en laat verdwaal. Christus is die Waarheid, en die Kerk as gelowiges moet die pilaar en grondslag van die waarheid wees. Ons moet hierdie waarheid uitdra en vertoon aan almal! Die vraag is ook: Hoe gaan ons met die waarheid om? Waarheid sonder liefde is onoortuigend, arm, koud en eintlik niksseggend. Liefde sonder waarheid is kragteloos, sentimenteel, slegs ‘n voorwendsel en eintlik vals. Dus: laat ons met balans, as goed toegeruste mense, die waarheid van Gods Woord bedien - ook in die onderwys en in die onderrig van ons kinders. Ons moenie teenoor geesgenote die handskoene aantrek nie, maar liewer saam probeer om die werklike vyand, en/of dwalinge (ook in die onderwys) te identifiseer en dan in die gesindheid van liefde by die waarheid te bly en die waarheid te dien. [Hierdie boodskap is ‘n geredigeerde weergawe van die openingswoord van prof. Du Plooy tydens die Seminaar oor Intergeloof in die Onderwys, wat in die Sinodesentrum van die Gereformeerde Kerke in SA gehou is]. |