ÉÉN GEES, ÉÉN LIGGAAM
  Etlike jare gelede was ons in Pretoria woonagtig. Soos oraloor, was daar ook skeidsmure rondom die huise. In ons voortuin was daar 'n pragtige rankplant (ek reken dit word dieValsjasmyn genoem) met pragtige blomme wat welig en hoog gegroei het. Dit het 'n gevoel van 'privaatheid' geskep. Op 'n dag het die draadheining meegegee onder die gewig van hierdie welige plant. Die gevolg was dat die plant uitgehaal moes word. Aanvanklik was dit nogal vreemd. Daar was skielik niks tussen ons en die buurman nie. Die meer aangename was dat dit meegebring het dat ons sommer oor die 'grens' heen met mekaar gekuier het.
Dalk moet ons vanuit verskillende kerkgenootskappe weer die grenslyne so verslap dat dit moontlik word om oor grense heen met mekaar te kuier...
In 1 Kor. 12:13 staan daar: "Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam…" Wat beteken dit vir ons as gelowiges? Sekerlik dat al die gelowiges in Jesus Christus deur die één Heilige Gees één Liggaam gemaak is. En as ons deur Hóm één gemaak is, beteken dit dat ons ook in ons menswees heelhartig daarna moet strewe, want ons hoort bymekaar. Maar hoekom is daar dan soveel verskillende Kerkgenootskappe? En hoekom soveel verskillende leerstellinge? En wie dink dit alles uit? En hoekom skei dit ons en maak dit sulke groot klowe tussen ons as gelowiges? Die klowe is soms so groot dat dit ons nie net van mekaar skei nie, maar ook letsels laat. Ons kan mekaar soveel pyn veroorsaak, terwyl ons aan dieselfde God glo. En nie net aan dieselfde God glo nie, maar ook dieselfde Saligmaker, Jesus Christus bely wat vir al ons sondes op die kruis gesterf het!
Dit wil voorkom asof een van die grootste innerlike pyn of letsels wat 'n gelowige kan beleef, sekerlik in die Kerk opgedoen word. Dit wat ons mekaar aandoen as gelowiges. Daar kom o.a. die pyn van verwerping, die pyn van vernedering, die pyn van verkleinering, om maar net 'n paar te noem.
Wat is die grondslag hiervan? Sekerlik ons vleeslike natuur. Want eenheid is van God, maar verdeeldheid is uit die mens self. God het ons een gemaak in die Liggaam van Christus, maar ons het onsself in verskillende kampe gegroepeer. Waar begin ons om dit alles reg te stel? Laat ons één Jesus Christus bely. Jesus sê in Matt. 16:18 - "En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie." Watter rots? Dít wat Petrus nét voor hierdie uitspraak bely het: "U is die Christus, die Seun van die lewende God." Op hierdie belydenis bou Jesus sy Kerk. En hier begin ons eenheid. Alles wat ons hierná doen wat nie eenheid bevorder nie, moet beskou word as sonde. As ons onsself in kampe verdeel, is dit sonde wat bely moet word en waarvan afstand behoort gedoen te word.
Wat dan van die verskillende kerkgenootskappe? En nog 'n groter vraag: Erken die Here die verskillende genootskappe? Mag ons dan waag om namens God te antwoord? Ons weet dat Hy die een Liggaam erken, wat Hy ook tot stand gebring het. As ons as gelowiges dan ons verskillende kergenootskappe het soos ons ook in verskillende gemeentes funksioneer, behoort ons dit só te doen dat ons ons nie van mekaar isoleer nie. Want, "Hy wat hom afskei, soek sy eie begeerte; hy bestry alles wat waarlik tot voordeel strek" (Spr. 18:1). Eenheid is belangriker as om ten alle koste ons eie leerstellings te handhaaf, teen watter prys ookal. Die grondslag is liefde. Ons sal in liefde na mekaar toe uitreik in verskillende kerkgroeperinge, sonder om ons identiteit prys te gee.
Laat ons 'n hand van liefde na mekaar toe uitreik, soos dit ook in Kol. 3:14 staan: "En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is."

Indeks     Index