ONS STEL BEKEND... NG Klerksdorp-Goudkop
  NG Klerksdorp-Goudkop is een van die jong NG gemeentes in Klerksdorp. Die gemeente het op 22 Februarie 1981 van Klerksdorp-Oos afgestig. Die lidmaattal met afstigting was 540 belydende lidmate en 246 dooplidmate. Met afstigting was Goudkop die 142e gemeente in die Sinode van Wes-Transvaal. Die kerkgebou is geleë aan die oostelike eindpunt van Monicaweg in Flamwood.
Die bouwerk aan die kerkkompleks het fluks begin en op 25 Augustus 1984 is die kerkgebou in gebruik geneem. Die kerkgebou het ongeveer 800 sitplekke met 3 moederskamers. Daar is 17 baie doelmatige kategese lokale saam met die kompleks gebou. Die dames het daardie jare geld ingesamel vir 'n orrel en op 12 Mei 1985 is die orrel in gebruik geneem. Dit is 'n Barok orrel met 1056 sprekende pype wat almal ingevoer is van die Hollandse maatskappy Stinkens af, gebou deur Fehrle en Roeleveld-orrelbouers.
Tans word daar gebou aan 'n saalkompleks. Daar is besluit om op 'n kontantbasis met die bouwerk voort te gaan. Die dak, verhoog en enkele mure is reeds voltooi en is al 'n paar keer gebruik vir gemeentefunksies.
Die leraars is Ds Nick Bezuidenhout en Ds Johan Gerber. Die gemeente se visie is “om tot eer van God deel te hê aan die opbou en uitbou van Sy koninkryk deur diens” Aksies om ons lidmate op te bou is o.a. die Somerryk klub vir senior lidmate, 'n steungroep vir depressielyers, 'n jeuggroep vir jongmense onder 30. By die aanddienste word daar veral op die jongmense (hoërskool) gefokus, terwyl daar kleuterkerk en kinderkerk vir jonger kinders is. Verskeie kampe word jaarliks vir jongmense gereël en die aktiwiteite by die kampe is 'n kruising tussen die TV reekse Surviver, Big Brother en Fear factor. (sien foto) Daar is selfs 'n pooltafel by die kerk waar jongmense hulleself kan besig hou. Verskeie Bybelstudiegroepe en kleingroepe vir mans en dames kom weekliks bymekaar. Drie groepe is tans besig met die “Beleef God” kursus. Daar is hierdie jaar ook met selgroepe in die gemeente begin.
Na buite is ons betrokke by sendingwerk in Sri Lanka en Madagaskar, behalwe ondersteuning van plaaslike sendingprojekte en die kampongsending. Barmhartigheidsprojekte sluit o.a. voedingskemas, hulp aan die plaaslike kinderhuise, NG welsyn, Tehuis vir bejaardes en Hospice in. Die gemeente is betrokke by die Tswaranang Community Centre en ondersteun nog sowat dertig ander instansies finansieel.
Goudkop is 'n gemeente waar mense tuis voel en God eer. Dit is geen wonder dat nuwe intrekkers en besoekers gereeld opmerkings maak oor hoe hartlik die mense van Goudkop is nie.

Indeks     Index